Eben Etzebeth, wat Saterdag in Baltimore sy rekord as die Springbok met die meeste toetswedstryde verder sal uitbrei wanneer hy sy 146de toets speel, sê dié wedstryd is van kardinale belang vir die span en dat hulle alles vir die volle 80 minute sal gee om die reeks te wen.
Die Springbokke loop tans met 2-1 voor in die Greatest Rivalry-reeks, wat beteken dat ’n oorwinning oor die All Blacks dié naweek die trofee vir die span sal beklink, terwyl ’n nederlaag sal veroorsaak dat die reeks gelykop eindig.
“Elke toets teen die All Blacks is besonders,” het Etzebeth gesê.
“Elke keer wanneer jy die groen-en-goud-trui aantrek, is dit onvergeetlik, en elke keer wanneer ons teen die All Blacks speel, weet ons wat die wedywering beteken en hoe belangrik dit vir albei spanne is.
“Hierdie wedstryd is veral baie spesiaal omdat dit gaan bepaal of ons die reeks wen en of dit gelykop eindig. Dit is dus ’n enorme toetswedstryd en ons is baie opgewonde daaroor.
“Om vier toetse agtereenvolgens teen Nieu-Seeland te speel, is die grootste toets vir enige speler. Dit was taai en daar was ’n paar uitmergelende gevegte, maar dit is waarvoor ons almal speel, en ons geniet elke sekonde daarvan.”
Die Bok-slot het ook die afrigtingspan geloof vir die manier waarop die span ná hul openingsnederlaag in die reeks teruggeveg het.
“Die afrigtingspan verdien baie eer. Hulle hou ons altyd eerlik. As ons nie goed speel nie, sê hulle vir ons. Maar die spelers was ook uitsonderlik.
“Elke keer wanneer ons nie goed begin nie, staan ons saam. Dit het gebeur in die Britse en Ierse Leeus-reeks in 2021. In albei Wêreldbekertoernooie [in 2019 en 2023] het ons ’n groepwedstryd verloor en daarna was daar geen ruimte vir nog ’n nederlaag nie. Ons was al voorheen in hierdie situasie en dit gebeur nou weer.
“Dit is ’n spesiale reeks aangesien dit die eerste keer in 30 jaar is dat Nieu-Seeland deur Suid-Afrika toer. Ons wou natuurlik die reeks wen, daarom het ons geweet ons sal diep moet delf in die tweede en derde toetse.”
- Die toets skop Saterdag om 23:00 (SA tyd) af.
