Bok-verslag: Só lyk elke speler se puntetelling / Dís die spelers wat hul kant bring . . . en wie flop

Bok-losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu.
Bok-losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu, Cheslin Kolbe en Cobus Reinach. Foto: Paul Faith / AFP.

Hier is ons punte vir die Springbokke se vertoning in Soweto.
Die Springbokke loop 2-1 voor in die Greatest Rivalry-reeks ná hulle die derde toets in die FNB-stadion met 29-24 gewen het.
Ethan Hooker is as Speler van die Wedstryd aangewys.

Ox Nché (7)

Verskaf die perdekrag in die skrum. Groot aandeel in strafdrie voor rustyd. Duik hard en wys puik hande op die aanval.

Malcolm Marx (9)

Altyd woelig by die losskrums en steel balle. Lynstane loop mooi en is sterk en fisiek. Voer ’n paar harde duikslae uit. Verdien sy 28ste toetsdrie.

Wilco Louw (7)

Een van die redes hoekom Rennie ’n vloermoer gooi oor die skrums. Verlaat veld in 51ste minuut. Goeie vertoning en bring sy kant.

Eben Etzebeth (8)

Bou voort op sy puik vertoning in Kaapstad. Speel die veld vol en duik met alles wat hy het. Die AB’s bring die beste uit Eben.

Ruan Nortjé (7)

Volpunte vir sy lakwerk en werkverrigting. Speel die veld vol soos ’n properse losvoorspeler.

Siya Kolisi-Kaptein (7)

Goed by losskrums en duik met mening. Werkverrigting goed en lei van voor.

Pieter-Steph du Toit (7)

Nog ’n vertoning om op trots te wees. Goed op die aanval én verdediging. Altyd ’n faktor by die losskrums.

Jasper Wiese (8)

Weer ’n paar kraglopies gelewer en wen heelwat veld. Speel met passie en werp alles in die stryd. Bly ’n kopseer vir die AB’s.

Cobus Reinach (6)

Skopwerk dalk nie so sekuur soos verlede week nie. Skoppe dikwels te diep om te kompeteer. Goed op die verdediging en versprei die bal goed.

Sacha Feinberg-Mngomezulu (7)

Geel kaart in die 10de minuut. Skaflike wedstryd en speel goed maar nie só goed soos in Kaapstad verlede naweek nie

Ethan Hooker (7)

Speler van die Wedstryd. Briljante omkeerbesit wat All Black se momentum versuur. Kompeterend onder die hoë bal en lakwerk puik. Gaan van krag tot krag.

Damian de Allende (8)

Groot aandeel in Arendse se drie. Moeilik gestuit op die aanval. Puik lakwerk en wen meters se veld.

Jesse Kriel (7)

Gemiddelde eerste helfte. Goeie tweede helfte en puik drie in die 59ste minuut. Mis ’n duikslag of twee. Organiseer die agterlyn weer goed.

Kurt-Lee Arendse (7)

Puik drie in die 22ste minuut. Soek werk, kry dit en slaan ’n gaping of twee. Weer kliphard op die verdediging met groot sukses.

Cheslin Kolbe (7)

Puik gespeel tot hy in die 10de minuut van die veld af is ná n stamp teen die kop.

Bok-senter André Esterhuizen duik oor vir die Bokke se enigste drie in die eerste Bok-toets van die Greatest Rivalry.
Bok-senter André Esterhuizen duik oor vir die Bokke se enigste drie in die eerste Bok-toets van die Greatest Rivalry. Foto: Charmaine Visser.

Plaasvervangers

Deon Fourie (7)

Maak in impak ná Marx die veld verlaat. Sy passie vir die Bok-trui wys in sy vertonings.

Gerhard Steenekamp (5)

Stillerig toe hy opkom, ook nie veel van die bal gesien nie.

Thomas du Toit (6)

Die Tenk bring sy kant van die plaasvervangersbank.

Lood de Jager (5)

Nie veel van die bal gesien nie toe hy Eben vervang nie.

André Esterhuizen (7)

Dit vat meer as een om hom grond toe te bring. Weer ’n monster op verdediging. Maak die beste van sy kort tydjie op die veld.

Cameron Hanekom (7)

Cammy Dog het byt op die verdediging. Is duidelik uitgehonger vir minute op die veld en stel nie teleur.

Morné van den Berg (7)

Lugskoppe meer akkuraat en tempo voel effe vinniger met hom agter die skrums en losgemale.

Manie Libbok (7)

Puik hande op die aanval. Gebruik sy systap effektief en hou die AB’s op hul tone. Taktiese skopwerk is puik.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos