Die Springbok-vrouespan speel môre hul eerste toets in die FNB-stadion in Johannesburg en sal ook hoop om vir ’n eerste keer met die Black Ferns af te reken.
Een van die voorste vroueskeidsregters ter wêreld, Amee Barrett-Theron, het intussen ook by die span aangesluit en hulle met die laaste slypwerk bygestaan.
Die bom het gisteroggend gebars toe Swys de Bruin, die Bok-vroue se afrigter, onmiddellik bedank het weens ’n klaarblyklike geskil met Saru. De Bruin wat in 2024 aangestel is, het groot sukses met die span behaal. Volgens mediaberigte spruit die geskil oor wenbonusse. De Bruin het intussen egter elders dié berigte weerlê en gesê hy het lank reeds sy bedanking ingedien.
Tog fokus die span nou op môre se uitdaging en die toekoms.
Die Bok-vroue se hulp- en voorspeler-afrigter, Franzel September, het aan Die Papier gesê: “Ons is baie tevrede met die spelers wat vir hierdie wedstryd beskikbaar is.
“Die wyse waarop ons die groep vir die toetse teen Amerika en Fidji asook vir die Afrika-beker voorberei het, het ’n goeie platform geskep waarop ons kan voortbou. Ons het ’n goeie en positiewe week agter die rug en die voorbereiding vir die toets het glad verloop.”
September is vol moed en glo om die vaste fasette te wen en te beheer, is belangrik. “Dis ons sterkpunt. Ons moet geleenthede skep en punte aanteken.”
Die Black Ferns gaan ’n strawwe toets wees en kan soos die All Blacks die verdediging aan flarde hardloop.
“Ons span moet seker maak dat hulle nie die vloei kry wat hulle verkies nie. Hulle is nommer twee in die wêreld vir ’n rede en ons is deeglik bewus van die uitdaging wat voorlê.
“Ons het by verlede jaar se Wêreldbeker goeie lesse teen hulle (Black Ferns) geleer.
“Hierdie keer is ons beter voorbereid om op aanval en verdediging te wen. Die spelers is opgewonde om deel te wees van die Greatest Rivalry-reeks en wil voor ons tuisskare na die beste van ons vermoë speel.”
