Kan ’n mens enkele weke uitmekaar vir Suid-Afrikaner Jacques Nienaber die speler van die wedstryd-toekenning gee. Seker nie. Maar dié Leinster-hulpafrigter se verdedingsplan is amper onverbeterlik.
Leinster het lelik teen Bordeaux vasgeval (41-19) in die Europese Kampioenebeker, maar dit was ’n uitsondering by ’n neutrale stadion.
In Ierland, voor hul tuisskare, staan Leinster nie sommer punte af nie. Vra maar die begeesterde en aanvalsgedrewe Lions-span wat 59-10 in die kwarteindstryd van vanjaar se Verenigde Rugbykampioenskap teen die Iere verloor het.
Dit sou moeilik wees om iemand aan die Bulls se kant in die eerste helfte uit te sonder. Veral omdat hulle so vinnig en hard gelak is op die aanval. Bekende en gesoute spelers het onder die druk fout op fout begaan.
Dus kan al die spelers op die rusbank uitgelig word. Gerhard Steenekamp en Wilco Louw het ’n verskil gemaak in ’n reeds dominerende skrum, en Marco van Staden, Jeandré Rudolph en Cobus Wiese het veral bygedra op die aanval.
Ewe skielik kon groter spelers beter tussen die agterspelers inskakel om die bal meer doelgerig te versprei en eindelik gate in Leinster se verdediging te vind.
Ja, twee drieë wat op enige ander dag op die telbord sou geld, is deur die skeidregters geskrap. Maar die feit dat die Bulls eindelik daardie geleenthede kon kry, was as gevolg van beter aanvalle en verspreiding met sleutelspelers wat eers later op die veld gedraf het.
Eindelik is dit nóg ’n VRK-eindstryd wat die Bulls verbrou het, maar dinge kon dalk anders gelyk het as hulle dalk 21-29 agter was met ’n paar minute se speeltyd oor.
