Bulls teen Munster: Dis Die Papier se speler van die wedstryd

Kurt-Lee Arendse in aksie vir die Bulle.
Kurt-Lee Arendse in aksie vir die Bulle. Foto: Vodacom Bulls/Facebook.

Is dit moontlik om vir die hele groep Bulls-voorspelers as die speler van die wedstryd te benoem? Veral in die afwesigheid van Wilco Louw. Nie? Dis jammer, want die Bulls het behoorlik met hul fisieke spel die Munster-manne gereeld op die agtervoet geplaas.

Embrose Papier, wat so rapsie meer as 50 minute op die veld was, is as speler van die wedstryd benoem.

Dit gaan vir Bok-breier, Rassie Erasmus, besonders moeilik wees om vir dié skrumskakel vir die Bokke dié seisoen mis te kyk. Daar is tans talle beserings wat dié posisie vir die Springbokke oop hou, met Morné “Krappies” van den Berg wat mees onlangs onder die mes moes gaan vir ’n bisepbesering.

Ons speler van die wedstryd is Kurt-Lee Arendse, met sterk ondersteuning van Willie le Roux wat die spel goed beheer het.

Dit was Arendse se laaste wedstryd by Loftus, aangesien hy volgende seisoen in Japan gaan rugby speel.

Arendse bly baie gevaarlik op die aanval, maar voer ook sy duikslae met ewe veel entoesiasme uit.

Embrose Papier is dalk nie hierdie week Die Papier se speler van die wedstryd nie, maar ons kan nie wag om te sien hoe hy hierdie seisoen vir die Bokke speel nie. Dít, is ’n moet.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie