Bulls wíl in VRK-top-4 wees, klop gekweste Munster net-net by Loftus

Bulls-vleuel Canan Moodie druk ’n drie in die Bulls se sege oor Munster.
Bulls-vleuel Canan Moodie druk ’n drie in die Bulls se sege oor Munster. Foto: Facebook.

Dié Munster-span wou sekermaak dat hulle nie weer met ’n ronde nulletjie huis toe gestuur word nie, en sou boonop verlede naweek se nederlaag teen die Sharks met ’n oortuigende wen hierdie week wou beklink.

Hulle kon egter net een van hierdie twee doelwitte bereik. Die eindtelling 34-31 was in die Bulls se guns.

’n Drie deur Munster-vleuel Seán O’Brien, het gesorg dat die Iere eerste punte aanteken.

In die 29ste minuut het Bulls-skrumskakel Embrose Papier netjies van agter die skrum pale toe gesnel om ’n briljante solo-drie aan te teken.

Kort daarna is Ruan Nortjé met ’n geelkaart koelkamers toe gestuur toe hy die bal in die losgemaal probeer beveilig het.

’n Tydperk met net 14 Bulls-spelers op die veld kon die aanhanger by Loftus Versfeld ’n bietjie bekommerd gemaak het, maar enige senuwees onder die skare het enkele minute later soos mis voor die son verdwyn.

Senter Stedman Gans het ’n Munster-man met ’n stywe arm teen die bors afgeweer om vir Bok-vleuel Canan Moodie die geleentheid te gee om in die hoek te gaan druk.

Losskakel Handré Pollard het beide skoppe oorgesit. Die halftyd-telling was dus 14-7.

Die reuse flank Tom Ahern het net ná die blaaskans die bal deur ’n Bulls-verdediger geboender om die telling 14-12 te maak.

’n Bal wat neffens die Bulls se doellyn losgespat het, is deur slot Ruan Vermaak soos ’n wafferse losskakel diep Munster se kant van die veld in geskop.

Toe die spoedvraat Papier sekondes later, bal in hand, oor die doellyn duik, kon jy net een vraag op die jubelende toeskouers se gesigte sien: Wat meer moet dié Bulls-skrumskakel nóg doen om in breier Rassie Erasmus se Bok-planne ingesluit te word?

Gepraat van twee drieë druk: Munster se Ahern het ook kort daarna onder die pale gaan druk om die punteverskil weer op twee punte te kry.

Plaasvervanger Cheswill Jooste kon in die 57ste minuut so mooi deur ’n gaping sny dat g’n man in ’n rooi trui eers aan hom kon raak op pad doellyn toe nie. Weereens was Pollard se skopskoen stewig aan sy voet gewees toe hy die drie verdoel, en later ’n strafskop deur die pale gestuur het.

Tog wou die Munster-manne net nie gaan lê nie. Heelagter Ben O’Connor het volgende ’n werklike flou verdedigingspoging deur sy Bulls eweknie Willie le Roux met ’n drie onder die pale gestraf.

Nog ’n strafskop pale toe kon die Bulls se voorsprong vergroot, voordat Munster se Edwin Edogbo ’n drie gedruk het wat deur losskakel Jack Crowley verdoel is.

Met dié bonuspunt-sege is die Bulls nou sewende op die VRK-puntelys. Papier is heel gepas as die speler van die wedstryd beloon.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie