Curriebeker-eindstryd: Dis ons droom vir Kimberley se mense, sê Bergh

George Whitehead. Foto: Dirk Kotze, Gallo Images.
George Whitehead. Foto: Dirk Kotze, Gallo Images.

Die droogte is verby. Die droom het ’n werklikheid geword.

Met dié woorde het Griekwas hul oorwinning oor die Leeus in verlede jaar se Curriebeker-eindstryd opgesom.

Griekwas verdedig hul titel vanmiddag in Kimberley.

Pieter Bergh, Griekwas se afrigter, het aan Die Papier gesê hoe belangrik dit vir hulle is om ’n eindstryd op hul tuisveld aan te bied.

“Verlede jaar het honderde ondersteuners ons – toe ons in Kimberley aangekom het nadat ons die eindstryd in Johannesburg gewen het – by die stadion ingewag.

“Dit was ’n ontvangs wat ons nooit sal vergeet nie. Van daardie dag af was dit ’n droom om vir die mense van Kimberley en die Noord-Kaap weer ’n eindstryd te gee. Ons wil vir ons ondersteuners wen om iets aan hulle te gee wat hulle vir die res van hul lewe sal onthou.”

Die Poubloues het die Leeus wel oortuigend geklop, maar het vandeesweek hard ge­werk. “Ons moet die spel beter beheer; ons maak soms te veel foute in ons eie halfgebied. Ons moet fokus op die afskoppe en om die basiese dinge so goed as moontlik te doen.”

Volgens Bergh het hulle geen beserings nie en behoort dus by die afgelope naweek se span te hou.

Hy sê hy besef die Pumas gaan hulle tot die uiterste beproef.

“Die Pumas het ’n groot en fisieke span. Ons sal hul momentum so vinnig as moontlik moet stuit. Hulle beskik ook oor goeie taktiese skoppers soos Thomas Bursey, Clinton Swart en JC Nel.”

Jimmy Stonehouse, die afrigter van die Pumas, het bevestig hulle sal met ’n volsterk­te span in Kimberley opdaag. “Ons het in 2022 die Cheetahs (halfeind) geklop en toe in die eindstryd in Kimberley gaan wen. Ons speel gewoonlik goed op ander velde en dit is goeie motivering vir die span. Ons sal geensins oorgerus wees nie.

“Ons fokus is nou op die vaste fasette. Ons moet eenvoudig beter. Griekwas beskik oor ’n goed gebalanseerde span.

“Hul agterlyn is ook gevaarlik. Ons moet ook waak teen George Whitehead se uitmuntende skopskoen pale toe.

“Sy taktiese skoppe is ook goed, wat hulle vorentoe vat as hulle sukkel.”

  • Afskoptyd vir die Curriebeker-eindstryd is om 15:00.

Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos