’n Onlangse video wat deur die VF Plus se Willie Spies aanlyn gedeel is, het groot aftrek geniet.
Natuurlik juis omdat dit iets meer versinnebeeld as dit wat in die 18 sekondes ooglopend vasgevang kan word.
In die video stap Spies en die DA se Cilliers Brink, beide burgemeesterskandidate vir hul onderskeie partye in Tshwane, en lê klippe neer by die Akademia-kampus wat tans in dié metro gebou word.
Dít ná Grandi Theunissen, voormalige VF Plus-koukusleier in die Tshwane-metroraad, sowat ’n week gelede uit die VF Plus bedank en by die DA aangesluit het.
“Vandag was ek bevoorreg om as gas van Kanton Eiendomme saam met my kollega, vriend en mededinger in die verkiesing, Cilliers Brink, ’n klip te stapel by die nuwe Akademia Kampus,” skryf Spies aanlyn.
“Ons gaan die hoofstad omskep in ’n nodus van innovasie en tegnologie danksy die uitnemende tersiêre en navorsingsinstellings van ons stad,” sê hy.
Hoewel die storm in Tshwane voor die plaaslike regeringsverkiesings, wat eers op 4 November plaasvind, nog nie gaan lê het nie, wys dié video dat die DA en VF Plus wel kan saamwerk. Veral in ’n metro wat vir beide partye ’n episentrum van steun sal wees.
