Die Isuzu Bulls Daisies is Saterdag, 4 April, vir die vierde agtereenvolgende keer as die wenners van die Pick n Pay Women’s Super League 1 gekroon.
En hoe dan anders? Van die eerste skrum af was dit duidelik: Die Daisies het Loftus Versfeld ingedraf om hulle opponente, die Sanlam Boland Dames, te gaffel.
Met ’n meedoënlose tempo en ’n onwrikbare fisieke aanslag het die Pretoriase span hul teenstanders stelselmatig onder die druk versmoor.
Die telling, 36-15, kon egter heel gepas Boland se veggees weerspieël om nooit op te gee nie. Kaptein, Aseza Hele, wat gereeld onder die Bok-vroue se bestes is, het verbete van voor geveg, maar kanse was min en die Daisies het kookwater-rugby gespeel.
Dié oorwinning verseker dat die Daisies hul vierde titel wen én hul seisoen onoorwonne afsluit.
- Kry al jou rugbynuus op NovaNews en op KickOff.com.
