’n Sonderlinge private versameling van antieke items, wat oor die 18de en 19de eeue van Kaapse kultuur strek, word later vandeesmaand in ’n virtuele veiling te koop aangebied. Strauss & co, die bekende kunsveilingshuis, stel die versameling beskikbaar onder die betekenisvolle titel: “Generations of Collecting”.
Dit is letterlik deur verskillende generasies versamel.
Die meer as 200 items sluit in Kaapse silwer, Oosterse keramiek, fyn kuns en meubels wat “die Kaap se belangrike posisie bevestig as ’n bymekaarkomplek vir Europese vakmanskap, Asiese handel en unieke plaaslike ontwerpe”.
Daar is ’n buitengewoon seldsame silwer teeblik ontwerp deur Johan Anton Bünning in 1760. Dit is tussen R70 000 en R90 000 werd.
Die plaaslike handelsgeskiedenis word uitgebeeld deur vroeë Chinese keramieke en VOC Arita-ware.
Daar is ook skilderye deur Gwelo Goodman, historiese Kaapse meubelstukke en Suid-Afrikaanse landskapwerke.

Volgens Strauss en co vertel historiese Kaapse silwerproduksie ’n verhaal van statuur, daaglikse en godsdienstige rituele met items wat deur prominente families bestel is.
’n Silwer Kaapse nagmaal beker staan veral uit en is gemaak deur Daniel Hockley, van wie min werk vandag beskikbaar is.
Daar is ook skaars items deur die silwersmede Frederick Lambertus Hermann, Daniel Heinrich Schmidt en Gerhardus Lotter.
Sommige van die 98 stukke uit die Oosterse versameling dateer terug na die Chinese T’dang-dinastie van 618 tot 906 n.C.
‘n Erdwerk-figuur, gewoonlik by grafte geplaas om die oorledene te beskerm (met ‘n geraamde waarde van R12 000 tot R15 000), is ook ingesluit.

Die versameling word verder aangevul deur ‘n groep van vyf VOC Arita-ware wat bestaan uit vyf borde in uitstekende toestand.
Daar is ook drie fyn gegraveerde VOC-glase. “Die borde in die besonder is ‘n waardevolle oorblyfsel uit ‘n tydperk toe Japan vir ‘n kort tydjie Europa se primêre verskaffer van porselein was,” sê Jill van Dugteren, koördineerder van ontwerp en dekoratiewe kunste by Strauss en kie.
Die meubels is ‘n ware bederf vir versamelaars, aangesien dit al die stylperiodes verteenwoordig wat in die Kaap ontwikkel het.
Dit is style wat in Europa ontstaan het en deur handelsroetes deur internasionale ontwerpstyle beïnvloed is, terwyl hulle ook hul eie eienskappe ontwikkel het.
Dit sluit ‘n Van der Stel-rusbank in.
Die landskapskilderye sluit werke in deur Goodman, wat die versameling oorheers, sowel as gesogte kunstenaars soos Gregoire Boonzaier, JH Pierneef en John Meyer.

Vir besonderhede en tye van die aanlyn veilings van 24 tot 26 Maart, besoek die webwerf www.straussart.co.za.
Redaksie
nuus@diepapier.co.za
