Die Kinderfonds vervul ’n belangrike rol in die bevordering van vroeë kinderontwikkeling deur die ondersteuning van programme wat jonger kinders se leervermoë versterk, veral in kwesbare gemeenskappe.
Volgens Adrie van Staden, die uitvoerende hoof van die Kinderfonds, is blootstelling aan leergeleenthede voor die ouderdom van sewe jaar noodsaaklik vir ’n kind se breinontwikkeling.
“Dit lê die grondslag vir hul vermoë om te leer,” sê sy.
’n Voorbeeld van so ’n program is Kamcare Maatskaplike en Opleidingsdienste se A Re Bale-leesprogram. Hierdie inisiatief word by kleuterskole in informele nedersettings aangebied, waar kinders dikwels aan uitdagende sosio-ekonomiese omstandighede blootgestel is.
Armoede, werkloosheid en beperkte toegang tot opvoedkundige hulpbronne dra by tot die algehele agterstand van kinders uit sulke gemeenskappe.
“Die kinders se opvoeding word beskou as die skool se verantwoordelikheid. Indien ons nie reeds vroeg begin om dié kinders ’n goeie opvoedkundige grondslag te gee nie, sal hulle vinnig ontspoor,” sê Liezel Landman, bestuurder van Kamcare.
Die A Re Bale-leesprogram fokus op die bevordering van skoolgereedheid deur middel van ’n rekenaargebaseerde leerstelsel. Kleuters ontwikkel vaardighede soos hand-oog-koördinasie, klankherkenning en basiese rekenaargeletterdheid.
Volgens Landman begin baie van dié kinders met ontwikkelingsagterstande. Die program help om die gaping te oorbrug.
Sedert die program se ontstaan 13 jaar gelede in die Kameeldrift-omgewing, net buite Pretoria, het meer as 1 600 kinders daarby baat gevind.
Die positiewe uitwerking is duidelik in hul verbeterde skoolprestasie en leergierigheid te sien. Jou skenking kan die fonds help om nog meer vroeë leergeleenthede aan kinders in baie arm gemeenskappe te bied, sê Van Staden.
Bydraes kan inbetaal word by Absa, rekeningnommer 2840157329. Gebruik jou selfoonnommer en naam as verwysing, of gebruik die klik hier vir kaartbetalings. Bydraes is belastingaftrekbaar.
Rig navrae aan Van Staden by 061 479 4791.
