Dis hoe die Bokke in die 2de Greatest Rivalry-toets teen die All Blacks gevaar het

,
Cheslyn Kolbe, speler van die wedstryd. Foto: X
Cheslyn Kolbe, speler van die wedstryd. Foto: X

Dit moes net gebeur het! Suid-Afrika het die tweede toets van die Greatest Rivalry-reeks in Kaapstad 33-26 gewen.

Gerhard Steenekamp – 7: Verlaat veld in die 36ste minuut. Doen die donkiewerk.

Deon Fourie 6: Ook net 36minute op die veld. Ingooiwerk goed by die lynstane. Besig, soek werk, kan tevrede wees met sy werkverrigting. 

Thomas du Toit 7: Thomas the Tank. Solied en speel die veld vol. Kragvertoning.

Eben Etzebeth 8: Speel kliphard, aggresief op die aanval. Een van sy beter wedstryde in ’n lang tyd. Kompeteer en ontwrig die All Black-lynstane.

Ruan Nortjé 7: Speel sy hart uit. Niks flashy nie. Gooi sy lyf rond en doen sy deel met oorgawe.

Siya Kolisi (k) 8: Indrukwekkend. Druk ’n drie in die 38ste minuut. Inspirerend en lei van voor. Vervang in 42ste minuut. Kan meer as tevrede voel met sy vertoning.

Pieter-Steph du Toit 8: Sy liefde vir die Boktruie wys in elke wedstryd. Puik op die aanval en verdediging. Meer kan jy nie van PSdT verwag nie.

Jasper Wiese 8: Op huidige spelpeil het die man nie geen gelyke nie. Gee sy alles op die aanval en verdediging.

Cobus Reinach 8: Puik wedstryd. Maak vinnig skoon agter oond. Goed op die aanval en verdediging. Sy taktiese skopwerk op die spreekwoordelike tiekie.

Sacha Feinberg-Mngomezulu – 8: Briljante lakwerk stop ’n drie in die 11de minuut. Aansienklik beter as op Ellis Park.                  

Ethan Hooker – 8: Briljant onder die hoë bal. Meer as indrukwekkend met die bal in die hand en wen veld.

Damian de Allende – 7: Verdien sy drie in die 22ste minuut. Hardloop sterk met die bal, kom oor die voordeellyn. Besering op halftyd tydens puik lakwerk opgedoen.

Jesse Kriel – 7: Druk ’n drie in die tweede minuut. Die agterlyn se klaskaptein, organiseer en hou die Bok-verdedigingslyne in plek.

Cheslin Kolbe – 8: Aangewys as Speler van die Wedstryd. Bly ’n kopseer vir die verdediging met die bal in hand. Korrel sekuur pale toe. Hou die verdediging aan die raai op die aanval./x

Damian Willemse – 7: Puik duikslag op halftyd. Stil wedstryd maar doen sy werk.

Malcolm Marx – 7: Bewerkstellig omkeerbesit, en gee die verdediging hoofbrekens.

Ox Nche – 7: Soos ’n blikkie boeliebief, stampvol vleis en daai vleis skrum, hardloop en tackle.

Wilco Louw – 7: Stil wedstryd in die tweede helfte.

Lood de Jager – 6: Vervang Nortje. Kry ’n geel kaart. Gemiddelde spel.

Andre Esterhuizen – 7: Vervang Kolisi op flank. Hardloop soos ’n wegholtrein met die bal.

Cameron Hanekom – 6: Nie veel kanse in die tweede helfte gekry nie.

Morné van den Berg – 6: Nie so effektief en lastig soos Reinach nie.

Manie Libbok – 7: Vervang Willemse op heelagter. Maak heelwat duikslae.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos