Waterbeperkings is ongerieflik, maar ironies genoeg is dit ook nie altyd so doeltreffend nie, meen wateringenieurs.
Volgens die departement van water en sanitasie se No Drop-program verloor munisipaliteite gemiddeld 47% van alle water wat hul aankoop weens lekkasies, onwettige verbindings en foutiewe watermeters. Die internasionale gemiddeld is 30%.
Watertoevoerbeheer, soos om hoofwaterkleppe deur die nag toe te maak, vererger egter soms die probleem.
“Die pypnetwerk werk onder druk, en daardie netwerk is ontwerp om die heeltyd vol te wees. Wanneer jy dit toelaat om leeg te loop, beskadig jy dit, want die lug kom in, en wanneer die water terugkom, druk dit die lug uit,” sê Abri Vermeulen, siviele ingenieur wat spesialiseer in water. Hy is ook ’n lid van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Siviele Ingenieurswese (Saice).
Weens die hoë watersnelheid waarteen dit gebeur, kan waterslag, oftewel water hammering, veroorsaak dat die pype beskadig word. Dit kan weer tot nuwe barste of lekkasies lei.
Dr. Chris Herold, hidroloog en voormalige president van Saice, onthou dat pype in Johannesburg tydens die droogte in die tagtigerjare en met vlak 2-waterbeperkings in plek, agt keer meer as gewoonlik gebars het.
Volgens Vermeulen het Johannesburg ook ’n groot aantal ou asbes-sementpype wat baie bros geword het weens ouderdom. “Dis belangrik dat daardie pype vervang word, want hulle bars maklik,” sê hy.
’n Ander wateringenieur wat anoniem wou bly, sê: “Wanneer waterstelsels leeg loop en weer vol word, word lug deur water verplaas. Die lug moet êrensheen gaan en kan veroorsaak dat watermeters lug registreer asof dit water is.”
Dít kan beteken dat hoogliggende inwoners wat alreeds benadeel word omdat hulle meer tye sonder water sit, ook nog belas word met ’n hoë waterrekening weens lug wat hulle (volgens foutiewe lesings) ‘gekoop’ het.”
Herold waarsku ook teen waterbesmetting wanneer pype, wat reeds vol barste is, leegloop weens waterbeperkings of tydens herstelwerk.
“Wanneer die pype vol is, lek die water uit die pyp uit, maar wanneer jy die pype leegmaak, kan bakterieë in die teenoorgestelde rigting inkom.”
Hy sê dit sluit ook kruisbesmetting tussen lekkende rioolpype en lekkende drinkwaterpype in.
Herold raai daarom mense aan om nie onmiddellik die water te drink wanneer watertoevoer herstel word ná dit af was nie.
