Duisende ruk op in Manila vir blitsbetoging teen arrestasie van senator en kerklid

Manila, 30 Junie 2026. Foto: X/Pera Files
Manila, 30 Junie 2026. Foto: X/Pera Files

Duisende lede van ’n magtige Filippynse godsdienstige sekte het Dinsdag in Manila byeengekom. Dié blitsbetoging het verkeer ontwrig terwyl die betogers teen die verwagte arrestasie van ’n senator en kerklid betoog het. Dit volg ’n dag nadat owerhede aangekondig het dat senator Rodante Marcoleta, ’n lid van die Iglesia Ni Cristo (INC)-kerk en ’n bondgenoot van vise-president Sara Duterte, aangekla sou word van korrupsie wat verband hou met sy verkiesingsveldtogfonds.

Die INC is histories ’n invloedryke stemblok wat noue bande het met die Duterte-politieke dinastie. Marcoleta word wyd beskou as ’n feitlik sekere stem teen die skuldigbevinding van Duterte in haar Senaatsverhoor volgende week waar sy moontlik uit haar pos geskop gaan word.

Van die betogers wat met AFP gepraat het, het gesê hulle is reeds Maandagaand deur organiseerders via teksboodskappe, oproepe en Telegram-boodskappe gekontak om aan die aksie te kom deelneem.

“Dit is ’n blitsbetoging. Soos jy weet is die Iglesia ni Cristo net een liggaam. Met net een bevel sal almal volg,” het die 56-jarige Rodel Gundrean gesê.

Nog ‘n kerklid, Marc Raeden Quemada (26), het gesê hy is reeds vanaf ses-uur Dinsdagoggend by die betoging en hy beplan om daar te bly “tot ons gesê word om huis toe te gaan”.

Teen 14:00 (plaaslike tyd) was die verkeer steeds erg opgehoop in die gebied en die polisie het die skare op ongeveer 12 000 mense geskat, met die verwagting dat daar nog talle gaan bykom. Die kans is goed dat erge verkeersprobleme tot laat in die aand kan voorkom.

Die ombudsman, Jesus Remulla, het Maandag bekend gemaak dat Marcoleta aangekla sal word oor die versuim om 75 miljoen peso (± $1,2 miljoen) se ongebruikte verkiesingsbydraes te verklaar.

’n Maand vroeër het aanklaers reeds aanklagte ingedien teen nog ’n Duterte-ondersteuner, senator Jose “Jinggoy” Estrada, oor sy beweerde betrokkenheid by ’n groot korrupsieskandaal rondom vals vloedbeheerprojekte.

’n Derde Duterte-bondgenoot, senator Ronald “Bato” Dela Rosa, kruip reeds weg nadat hy nouliks arrestasie vrygespring het op ’n Internasionale Strafhof-lasbrief oor sy rol in die dodelike dwelmoorlog van die vise-president se pa, oudpresident Rodrigo Duterte.

“Selektiewe geregtigheid”

In ’n videoboodskap voor Dinsdag se betoging het INC-woordvoerder Edwil Zabala gesê die kerk vra vir “deursigtigheid” en steun vir Marcoleta.

“Ons wil hulle laat weet dat selektiewe geregtigheid onreg is en ons sal nie stilbly nie,” het hy gesê.

Vise-president Duterte het in ’n afsonderlike verklaring gesê president Ferdinand Marcos se administrasie het “die regstelsel gewapen deur sake teen en die gevangenisstraf van individue wat teen beweerde korrupsie uitpraat, in te dien”.

In November het die INC ’n skare van honderde duisende mense byeengebring om aanspreeklikheid oor die vloedbeheer-skandaal te eis en die meeste blaam op Marcos geplaas.

Vroeër in 2025 het die kerk ook ’n groot betoging in Manila gehou teen die voorgestelde verwydering van Duterte.

Alhoewel daardie besluit later deur die land se hooggeregshof omgekeer is, is Duterte verlede maand weer deur die laerhuis van die parlement aangekla.

Haar verhoor begin op 6 Julie. Slegs 16 stemme in die senaat wat uit 24 lede bestaaan is nodig vir skuldigbevinding en dit kan tot haar verwydering en ’n permanente verbod op verkose ampte lei.

Op Dinsdag het president Marcos alle buite-programme by die presidensiële paleis gekanselleer om die situasie te monitor.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie