Alexandria Ocasio-Cortez, een van die prominentste figure aan die Amerikaanse politieke linkerflank en ’n moontlike presidentskandidaat, het onthul dat sy haar eierselle laat vries, en gesê sy wil openlik praat oor die keuses waarmee vroue gekonfronteer word wanneer hulle loopbane en gesinslewe probeer balanseer.
Die 36-jarige Demokratiese kongreslid van New York het die afgelope naweek video’s van die vrugbaarheidsbehandeling op sosiale media gedeel, insluitend beeldmateriaal van haarself waar sy hormooninspuitings toedien.
“Dit is ’n keuse wat ek maak om meer in beheer van my lewe te voel,” het Ocasio-Cortez gesê en haar vermoë om die prosedure te ondergaan as ’n “baie bevoorregte posisie” beskryf.
Haar bekendmaking kom te midde van toenemende bespiegeling oor haar politieke toekoms.
AOC vir prez?
Ocasio-Cortez het ure later in ’n televisie-onderhoud gesê sy het nog nie ’n moontlike presidentskandidatuur vir 2028 uitgesluit nie, terwyl sy ook die moontlikheid oopgelaat het om die Demokratiese leier in die Senaat, Chuck Schumer, vir sy New York-setel uit te daag.
“Ek het nie die moontlikheid uitgesluit nie,” het sy Sondag aan ABC gesê toe sy oor ’n presidentskandidatuur uitgevra is, terwyl sy beklemtoon het dat haar onmiddellike fokus op November se middeltermynverkiesing bly.
Ocasio-Cortez, wat algemeen aan haar voorletters AOC bekend is, het in 2018 op die nasionale politieke toneel verskyn nadat sy ’n verrassende oorwinning in ’n kongresverkiesing behaal het. Sy het vinnig een van die voorste stemme van die Demokratiese Party se linkervleuel geword.
Politieke risiko
Sy het gesê haar besluit om in die openbaar oor die vries van haar eierselle te praat, hou ’n “politieke risiko” in, omdat vroue wat hulle vir ’n politieke amp verkiesbaar stel, dikwels vrae oor huwelik en kinders in die gesig staar wat selde aan mans gevra word.
“Dit is eenvoudig nie iets waarmee mans te doen kry nie,” het sy gesê. “Mans stel hulle verkiesbaar, of doen eerlikwaar aansoek vir werk,” sonder dat mense wonder of hulle van plan is om ’n gesin te begin.
Ocasio-Cortez het die besluit ook verbind aan haar voorspraak vir reproduktiewe regte, en gesê politieke leiers behoort gesprekke oor vrouegesondheid te normaliseer in ’n tyd wanneer toegang tot aborsie en ander reproduktiewe sorg in die Verenigde State hewig betwis word.
“In hierdie politieke omgewing … dink ek dit is belangrik dat ons as leiers hierdie gesprekke voer,” het sy gesê.
Geen waarborge nie
Om eierselle te vries, behels dat die eierstokke met hormooninspuitings gestimuleer word voordat volwasse eierselle chirurgies verwyder en bewaar word vir moontlike toekomstige gebruik deur in vitro-bevrugting (IVF).
Die proses kan duur wees, word nie altyd deur mediese versekering gedek nie en bied geen waarborg van ’n toekomstige swangerskap nie. Ocasio-Cortez het gesê sy spaar al ’n geruime tyd vir die prosedure en het dit lank oorweeg.
Sy het nie gesê of sy uiteindelik van plan is om kinders te hê nie.
