Die moontlikheid van ’n El Niño-weerstelsel later vanjaar laat landbou produsente reeds hul beplanning vir die komende somerproduksieseisoen hersien. Hoewel daar nog onsekerheid bestaan oor die uiteindelike omvang van die verskynsel, meen landbouleiers en weerkundiges dat boere reeds nou voorsorgmaatreëls behoort te tref en risiko’s noukeurig behoort te bestuur.
Volgens Hendrik Knobel, Vrystaat Landbou se streeksverteenwoordiger in Bethlehem, is die voorspelling nie noodwendig die nuus waarna produsente uitgesien het nie. Hy sê boere is egter bewus van die uitdagings wat ’n El Niño-seisoen kan meebring en sal hul bestuurspraktyke daarvolgens begin aanpas.
“Boere dra kennis van die risiko’s en sal voorsorg begin tref waar moontlik,” sê Knobel.
Een van die belangrikste aanpassings wat oorweeg kan word, is die vervroeging van plantdatums. Knobel sê vinniger kultivars van gewasse soos mielies en sojabone kan vroeër geplant word om die risiko van hitte- en vogstremming gedurende kritieke groeistadia te verminder. Die normale mid-somerdroogte kom tradisioneel teen die einde van Januarie en begin Februarie voor, en vroeër aanplantings kan help om die gewasse beter met beskikbare grondvog te beheer.
“Die grootste aanpassing wat produsente kan maak, is om hul kultivarkeuses en plantdatums te hersien. Buiten dit is daar min wat gedoen kan word om die weer te beïnvloed,” sê Knobel.
Hy wys verder daarop dat sojabone oor die algemeen beter by wisselende klimaatstoestande kan aanpas, terwyl mielies meer kwesbaar vir hitte- en vogstres bly.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het onlangs aangedui dat toestande gunstig raak vir die ontwikkeling van ’n El Niño-verskynsel wat die somerreënvalgebiede kan beïnvloed.
Volgens Johan van den Berg, onafhanklike weervoorspeller van Bloemfontein, bestaan daar steeds die moontlikheid van bogemiddelde reënval gedurende die lente. Hy waarsku egter dat droër en warmer toestande vanaf November kan ontwikkel indien die El Niño-stelsel verder versterk.
