Suid-Afrika se Masterchef-wenner Andrew Benjamin, oftewel Benjie Baby soos hy op die televisieprogram bekend gestaan het, sal Woensdag in Kimberley tuiskom nadat hy op Sondagaand, 16 Augustus, in die eindronde van die jongste Masterchef-tuiskok-kookkompetisie koning gekraai het oor die naaswenner, Candice Meth van KwaZulu-Natal.
Benjamin en Meth het 120 minute gekry om ’n driegangmaaltyd te berei wat hul reis in die kompetisie weerspieël. Benjamin het pangebraaide salm met preie en ’n witwynsous as sy voorgereg bedien; gevolg deur varkpens met vinkel-en-appelpuree, ertjiemoes en ’n rooiwyn-jus. Vir nagereg het hy ’n
meringue, vanielje-sponskoek, sjokoladeroom-pâtissière met framboos coulis en vanieljeroomys bedien.
‘Ek is gek oor werk as elektrisiën, én mal oor kook’
Dié Kimberliet wat aan die Laerskool en Hoërskool Homevale skoolgegaan het, het al kleintyd saam met sy ouma Aletta Benjamin in die kombuis gekook. Hy het ’n plakboek gemaak en resepte daarin geplak en geskryf.
“Ongelukkig was daar nie geld om ná matriek na ’n sjefskool in Bloemfontein te gaan vir verdere studie nie,” vertel hy.
Hy het toe ’n elektrisiën geword, en werk steeds by Eskom; deesdae in die Nasionale Transmissie-maatskappy van Suid-Afrika (NTCSA). Hy kon aan die einde van verlede jaar, toe die Masterchef-episodes opgeneem is, vooruit verlof vat om deel te neem.

“Ek is gek oor my werk as elektrisiën, én mal oor kook. Ek bied van tyd tot tyd opwip-restaurant-etes by die McGregor-museum se Dunluce House-museum, waarmee ek sal aanhou.”
Hy gaan sy prysgeld van meer as R1 miljoen gebruik om sy kombuis op te knap, op aandrang van sy vrou, Salomé.
“Ek sal haar en ons kinders, die tweeling Andrew en Alicia (8), en seun Allistair (5), ook bederf met ’n wegbreek-vakansie en presente. Hulle sê juis hulle moet beloon word omdat hulle agt maande lank moes stilbly daaroor dat ek die wenner is.
“My gesin was op die TV-ateljee-stel met die opname van die laaste twee episodes, wat wonderlik was. As ek verloor het, sou hulle leer en besef dit is deel van die lewe.”
Sy werkmense het heeltyd probeer uitvis wie die wenner was, “maar ek het hulle gesê ek het vergeet.”
