Die veiligheid van Engelse leerders wat na bewering sonder vooraf waarskuwing in ’n Afrikaanse skool geplaas is, sowel as dié van ander leerders by die skool, is in gedrang.
Daarom moet die plasing dringend opgeskort word.
Só het adv. André Sander Donderdag in die virtuele hooggeregshof namens die Swartruggens Gekombineerde Skool in Noordwes en die skool se beheerraad betoog.
Díe hof het Donderdag die eerste deel van die aansoek – ’n dringende aansoek om ’n tussentydse interdik – aangehoor ná die onderwysdepartement in Noordwes gedurende die Desemberskoolvakansie besluit het om 78 Engelssprekende leerders na die Swartruggens Gekombineerde Skool te stuur.
Volgens Sander is die kinders op die skool “afgeforseer”.
Die skool voer aan daar is nie vooraf met hulle oor die toelatings gekonsulteer nie en die departement het geen bykomende hulpbronne aangebied om die 78 te akkommodeer nie.
Trouens, die skool beweer hy is op 12 Januarie vanjaar van die besluit ingelig – slegs twee dae voordat die nuwe skooljaar begin het.
“Ons voer aan dat daar ernstige gesondheids- en veiligheidsrisiko’s is,” het Sander gesê en verwys na die houtstruktuur van die skoolsaal waar die 78 tans skoolgaan.
Volgens Sander het dié struktuur erg onder weerselemente en termiete deurgeloop en bestaan die risiko dat die gebou in duie kan stort.
Die kinders sit daar omdat die skool glo nie ander plek het nie.
Sander het verder verwys na die skool se elektriese stelsel wat nie oorlading kan hanteer nie en die badkamergeriewe wat “slegs voldoende” vir die huidige kapasiteit is.
“Meer onderwysers en meer klaskamers beteken groter impak op die stelsel,” het Sander gesê.
In die eerste deel van die aansoek vra die aansoekers die hof om die implementering van die besluit om die 78 leerders by die Swartruggens Gekombineerde Skool te plaas op ’n dringende basis op te skort en sodoende die kinders uit daardie skool te haal, hangende die aanhoor en uitslag van die tweede deel van die aansoek (’n hersiening van die onderwysdepartement se besluit).
Volgens die aansoekers het die Swartruggens Intermediate School – ’n primêre skool op die dorp – “geskikte mobiele klaskamers” waar hulle tydelik kan skoolgaan en waar hulle sal veilig wees.
Die aansoekers voer aan die Swartruggens Gekombineerde Skool is nou “oorvol” en die departement het in werklikheid die skool se taalbeleid gewysig deur Engelssprekende kinders in ’n Afrikaanse skool te plaas.
Luidens die betooghoofde mag ’n departementshoof ingevolge die Skolewet ’n skool opdrag gee om meer as een taal te praat waar dit prakties moontlik is, maar dis onderhewig aan verskeie faktore, soos dat daar in die beste belang van al die kinders opgetree moet word.
Om die taalbeleid te verander verg ook ’n konsultasieproses, wat glo nie gevolg is nie.
“Die besluit is nie rasioneel nie, aangesien dit gedokumenteerde infrastruktuurtekortkominge ignoreer en leerders in onveilige toestande plaas sonder konsultasie of hulpbronne,” lui die betooghoofde.
Adv. Jimmy Mandla Gumbi, SC, namens die respondente, het die hof daarop gewys dat die Swartruggens Gekombineerde Skool vyf mobiele klaskamers ontvang het om met die kapasiteitsprobleem te help.
Volgens die betooghoofde het die onderwysdepartement al in 2024 daaroor begin praat om die Swartruggens Intermediate School in ’n primêre skool te verander en van die gr. 8- en 9-leerders na ander skole soos die Swartruggens Gekombineerde Skool te stuur.
Daarom, voer die respondente aan, was ’n “vars konsultasieproses” nie nodig nie.
Hulle het niks oor die taalkwessie gesê nie.
Die uitspraak word voorbehou.
