Daar was reeds drama in die eerste halfeindstryd van hierdie seisoen se Europese Kampioenebeker. Leinster het Saterdagmiddag vir Toulon net-net met 29-25 in Ierland geklop.
Dus was die groot vraag vir Sondag se tweede halfeindstryd: Sou Bordeaux vir Bath in Frankryk kon wen om uiteindelik ’n kans te kry om in die eindstryd wraak te neem vir hul medeburgers?
Die antwoord is ja. Bordeaux, die huidige Kampioenebeker-wenners, het 38-26 vir Bath op eie bodem geklop.
Voordat twee minute verstreke was het Bordeaux-vleuel Damian Penaud ’n gaping benut, sodat agtsteman Marko Gazzotti een fase later oor kon duik vir ’n drie. Skrumskakel Maxime Lucu het seker gemaak dat sy span 7-0 voorloop.
Die volgende paar minute het Bath met hul aanvallende spel gereeld naby Bordeaux se doellyn geboer, tot hulle uiteindelik in die sewende minuut kon druk.
Bath se skrumskakel Ben Spencer het met sy linkervoet sekuur die bal in vleuel Will Muir se hand geskop om in die hoek oor te duik. Losskakel Finn Russell het die telling gelykop gemaak.
Dit was van meet af duidelik dat hoe die spanne skop, soos soveel rugbywedstryde tans, die aantal aanvalgeleenthede sou bepaal. Hier het Bath aanvanklik ’n klein bietjie meer voordeel geniet. Maar dit het in Bordeaux se rigting geswaai soos die wedstryd aangegaan het.
Lucu se skoppies agter die skrums het sy span op die aanval gehou. Die plan was duidelik: Skop, voorspelers maak sag, stuur die bal wyd. Volgende was dit die ander Bordeaux-vleuel Louis Bielle-Biarrey wat sowat sewe minute later in die hoek gedruk het. Ná Lucu se skop was dit 14-7.
Bath het volgende gedruk ná senter Louie Hennessey van die middel van die veld af deurgebreek het om sy span vir talle fases op Bordeaux se doellyn te hou. Swak dissipline van die Franse het gesorg dat die spel net in hulle helfte van die veld plaasgevind het, totdat Muir weer in die hoekie kon oorduik. Dié keer kon Russell nie sy skop deur die pale stuur nie en dus was die telling 14-12.
Voorlangs het onder meer Suid-Afrika se Thomas du Toit gesorg dat die eerste twee skrumstrafskoppe Bath se kant toe swaai.
Die volgende skrumstrafskop was egter SA stut Carlü Sadie en sy mede-Bordeaux-voorspelers s’n. Dié een het Lucu se drie tot gevolg gehad om die palindroom-telling 21-12 op die telbord te sit.
Ná ’n strafskop minute later was die halftydtelling 24-12.
Die tweede helfte het dit deurlopend gevoel of Bath net vasklou om nie totaal en al beheer oor die wedstryd te verloor nie. Daarteenoor het Bordeaux net aanhou voortbou op hul momentum.
Selfs toe Hennessey in die 50ste minuut vir sy tweede drie oorduik, het dit nie soos die begin van ’n brawe terugvegpoging gevoel nie. Nee, met die telling op 24-19 het dit soos ’n klein struikelblok gelyk wat Bordeaux vinnig weer onbenullig sou laat voel.
Dit was dus nie werklik ’n verrassing dat Bordeaux volgende punte aangeteken het nie. Reuse stut Ben Tameifuna se verdoelde drie was ’n pluimpie in die hoede van die voorspelers, en hul spelpeil het Bath se slot Charlie Ewels ook koelkas toe gestuur.
Dit sê nie dat die vorige 18 minute vervelig was nie. Alles behalwe. Maar beslissings het al hoe meer in Bordeaux se rigting geswaai en gapings het groter begin word soos die Bath spelers moeër geword het.
Om sout in Bath se wonde te vryf, het Temo Matiu ook nog voor die einde van die wedstryd ’n drie gedruk. Met die spel nou behoorlik los het Bath se Tom Carr-Smith ook oorgeduik om die eindtelling, met Russell se skopskoen, 38-26 te maak
Lucu het heel gepas as die speler van die wedstryd weggestap
Bordeaux sal dus nou op Saterdag, 23 Mei, in Spanje teen Leinster in die eindstryd te staan kom om hierdie jaar se Europese Kampionebeker-wenners te kroon.
- Kry al jou rugbynuus in Die Papier, op NovaNews en op KickOff.com.
