Europese Kampioene­beker: Leinster klop Toulon in halfeindstryd

Ierse flank Josh van der Flier duik oor vir sy drie teen Toulon in die Europese Kampioenebeker.
Ierse flank Josh van der Flier duik oor vir sy drie teen Toulon in die Europese Kampioenebeker. Foto: Facebook.

Daar is min dinge só intens soos uitkloprugby. Ewe skielik klink elke duikslag ’n bietjie harder, word elke fout ’n klein bietjie groter probleem en kan elke verbroude stelskop jou die wedstryd kos.

Soveel te meer as dit ’n uitklopwedstryd vir die Kampioenebeker tussen die Europese reuse Leinster van Ierland en Toulon van Frankryk is.

Hoewel die momentum in die halfeindstryd heen en weer geswaai het, het Leinster uiteindelik 29-25 gewen.

En hoe dan anders, jy kon voel dié Ierse span wou hierdie oorwinning net ’n titseltjie meer op die dag gehad het . . .

Leinster het in 2018 laas die Kampioenebeker gewen, maar het daarna in 2019, 2022, 2023 en 2024 in die eindstryd gespeel. Toulon het in 2015 laas dié beker gewen.

In die 12de minuut kon flank Jack Conan deurbreek om Leinster eerste op die telbord te laat geld. Ná twee strafskoppe deur Melvyn Jaminet, was dit weer die Ierse flank Josh van der Flier wat ’n drie gedruk het.

Swak dissipline het egter kort daarna vir Leinster in die steek gelaat toe Andrew Porter en Harry Byrne enkele minute uitmekaar met geelkaarte van die veld gestuur is.

Dit het die geleentheid gebied vir Toulon-vleuel Setariki Tuicuvu om oor te duik en die telling voor halftyd 14-11 te maak.

Hul geluk het egter vir eers hier gestop. Vroeg in die tweede helfte het Teddy Baubigny ’n geelkaart vir ’n gevaarlike duikslag gekry en kon Ierland se Garry Ringrose oomblikke later ’n drie druk. Die telling was dus nou 19-11.

In die 60ste minuut het Byrne die telling met ’n strafskop na 22-11 gerek.

In die volgende 10 minute het die Ierland-agsteman Caelan Dorris en die Franse skrumskakel Baptiste Serin drieë gedruk om die telling 29-18 te maak.

Minute later het hulle weer teen die kantlyn afgenael, maar ’n aanslaan deur Tuicuvu het een van Toulon se laaste kanse om die wedstryd te wen, gemors.

Die wedstryd was egter nog nie verby nie: Toulon-losskakel Tomas Albornoz se puik skopaangee na vleuel Gael Drean het ’n skitterdrie tot gevolg gehad. Die telling was dus nou 29-25 met vier minute se amptelike speeltyd oor.

Die vraag bestaan nou vir aanhangers van die Verenigde Rugbykampioenskap, waarin die Suid-Afrikaanse klubspanne speel: Skree ’n mens vir die enigste span uit dié kompetisie wat nog in die Europese Kampioenebeker staande gebly het?

Tyd sal leer wanneer Leinster teen Bath óf Bordeaux (wat Sondag in die tweede halfeindstryd kragte meet), op 23 Mei in Spanje in die eindstryd speel.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie