F1: Russell puik op Spielberg; nou vir Silverstone

Mercedes se George Russell vier sy oorwinning in Oostenryk.
Mercedes se George Russell vier sy oorwinning in Oostenryk. Foto: Pauline Ballet, Getty Images.

Die Oostenrykse Grand Prix in Spielberg het weer Formule Een se blommeruiker herrangskik.

Die spanne wat die toon tans aangee, is nie noodwendig dié wat die jaar met bravade begin het nie.

Red Bull Racing se jongste opgradering het die kuipe en mediaruimte onkant betrap.

Max Verstappen se tweede plek op die podium bewys weer die temperament van die sport is soos ’n koliekbaba – dan warm, dan weer koud.

George Russell se desperate dog briljante oorwinning het sy titelaspirasies nuwe lewe en hoop gegee.

Hy ry met ’n koekmengsel van selfvertroue en indringendheid, terwyl Kimi Antonelli se derde plek ’n waardevolle herstel is ná ’n naweek waarin hy weer moes veg vir selfbehoud.

Red Bull Racing het nog altyd die tegniese diepte gehad om sy skaakbord te herrangskik, ten spyte van die drastiese verlies aan tegniese personeel oor die afgelope tydperk.

Hoewel Mercedes die tromspeler van die rockgroep bly, is dit Red Bull wat hom op sy tone hou.

Dan is daar iets waarna elke ondersteuner uitsien, en dit is wanneer Hamilton en Verstappen in ’n tweestryd betrokke raak – dit maak nie saak vir hoeveel rondtes nie. Die kuipe en onder­steuners lek lippe af vir ’n twee­stryd wat intens, tegnies, en vol onderstrominge is.

LEES | Antonelli blazes past Hamilton to clinch victory in sprint race at Silverstone

Hamilton het duidelik gehoop om die suksesvolle Barcelona-­strategie te herhaal, maar ­Verstappen het hom hierdie keer nie die ruimte gegee nie.

Hy was die enigste een wat die kuipe drie keer besoek het, maar Verstappen het een stel nuwe bande gehad wat niemand anders gehad het nie – die resep vir hul sukses.

Ferrari, intussen, bevind homself in ’n oomblik van introspeksie. Charles Leclerc se frustrasie is tasbaar. Hy was weer ongelukkig en met die Brit­se Grand Prix by Silverstone hierdie naweek moet hulle bewys hulle het steeds beheer oor hul momentum.

En Silverstone self, ’n baan waar Hamilton se nalatenskap diep ingegrafeer is, moet weer die agtergrond van hul 2026-bloudruk word.

Die Britse Grand Prix beloof om die seisoen se nuwe status quo te toets: Mercedes met herwonne vuur, Red Bull met tegniese selfvertroue en Ferrari, wat desperaat is om sy balans te herontdek.

McLaren, wat steeds kleitrap, sien weekliks hoe die kampioenskap stadig van hom wegglip. En met ’n lojale Britse skare op die paviljoene die naweek, is die aandag tussen hul blou-oog seuns Hamilton, Russel en Norris verdeel.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie