FAK beraam groot planne in Oos-Vrystaat

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se fondasies Vrystaat-vlaktes is onlangs opnuut versterk toe Lieandri Ackermann as kultuurnetwerkkoördineerder vir die Sentrale streek aangestel is.

Lieandri werk al meer as vyf jaar vir die FAK by die Voortrekkermonument, maar is nou slaggereed vir ’n nuwe hoofstuk in haar lewe.

Dié hoofstuk sluit ook haar toekomstige huwelik aan haar verloofde, Gerrit Rossouw, in, waarna die tweetjies in Ficksburg gaan nesskop.

Leandri het ’n diep liefde vir kultuur, geskiedenis en gemeenskapsbou, alles eienskappe waarop sy vir haar nuwe rol sterk wil steun. Sy sal in een van Ficksburg se historiese pastoriehuise woon.

“Ek sien baie uit na my nuwe werk en beoog om as skakel tussen die FAK en die gemeenskap te dien,” verduidelik Lieandri in ’n persverklaring.

“Ek moedig gemeenskappe aan om my oor hul projekte in te lig, en dan kan die FAK ondersoek instel oor hoe ons betrokke kan raak. Indien daar byvoorbeeld permitaansoeke nodig is om ’n konsentrasiekampterrein of ’n ander erfenisterrein te herstel, het ons die kundige hulpbronne om die regte advies te verskaf.”

Lieandri sal toesig hou oor die hele Vrystaat, asook Potchefstroom en Klerksdorp. Hoewel die hoofbasis van FAK-Sentraal steeds by die FAK-Udolpho-Rivierplaas buite Parys bly, sal Lieandri se teenwoordigheid in die Oos-Vrystaat gemeenskappe selfs nader aan ondersteuning en kundigheid bring.

Skole en erfenisterreine bly vir die FAK twee belangrikke drukpunte om kultuur en geskiedenis te beskerm en burgers te bemagtig.

Haar rol behels dus baie meer as administrasie; sy neem aktief deel aan gemeenskapsprojekte en bied hulp en strategiese raad soos nodig.

“Ons wil ’n tuiste en heenkome vir mense skep rakende hul taal- en geskiedenisbehoeftes. Die FAK is daar om hande te vat en saam te bou,” sê sy.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie