G’n onmiddellike brandstoftekorte, al styg oliepryse wêreldwyd, sê regering

Die brandstofprys behoort in April vanjaar te styg weens die Midde-Ooste-konflik, maar daar is nie ’n onmiddellike brandstoftekort nie, sê die regering.

Dit is maklik om die nuus dop te hou en dan paniekbevange te begin tob oor hoe die konflik in die Midde-Ooste ook jou sak gaan raak.

Hoewel oliepryse regoor die wêreld gaan styg, staar Suid-Afrika geen onmiddellike risiko van brandstoftekorte in die gesig nie. Dit is natuurlik ondanks voortgesette geopolitieke spanning wat die internasionale markte onstabiel hou.

Só sê die departement van minerale en petroleumhulpbronne in ’n persverklaring Dinsdagaand.

Suid-Afrika het tans twee werkende ruolieraffinaderye, NATREF en Astron Energy, benewens Sasol se Secunda steenkool-tot-vloeistof-aanleg. Dié fasiliteite maak staat op ruolie-invoere wat hoofsaaklik uit Wes-Afrika en toenemend ook uit ander lande regoor die Afrika-kontinent verkry word.

Die konflik in die Midde-Ooste, wat tans op sy 11de dag staan, sal na verwagting vanaf April vanjaar hoër brandstofpryse vir motoriste beteken.

Intussen het die burgerregteorganisasie AfriForum ’n beroep op die minister van finansies, Enoch Godongwana gedoen om die brandstofheffing in hierdie tyd te verlaag.

Hul herinner Godongwana dat hy, in samewerking met oorlede Gwede Mantashe, in 2022 ’n tydelike verlaging in die algemene brandstofheffing van R1,50 per liter aangekondig het om gebruikers teen die nagevolge van die konflik tussen Rusland en die Oekraïne te help beskerm.

“Afriforum, saam met baie ekonome, glo dat dit die gepaste benadering is om die impak van hierdie jongste krisis van ’n soortgelyke aard te versag,” skryf Ernst van Zyl, Afriforum se hoof van openbare betrekkinge, in die brief aan Godongwana.

“Mense onderskat dikwels die uitwerking van ’n stygende brandstofprys op die prys van goedere,” skryf hy.

Die departement het gesê hy sal die situasie noukeurig bly monitor en verdere inligting verskaf voordat die amptelike brandstofprysaanpassings vir April aangekondig word.

“Die departement bly optimisties dat die spanning in die nabye toekoms sal afneem, wat sal help om wêreldoliemarkte te stabiliseer en tot verbeterde brandstofprystoetstande by te dra,” lui die verklaring.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie