Greatest Rivalry: Dís die een statistiek wat Rassie en kie slapelose nagte sal gee

Die All Blacks voer die haka op.
Die All Blacks voer die haka op. Foto: Facebook/All Blacks.

Daar was een veelseggende statistiek wat ver bo die ander uitgestyg het in die Springbokke se 33-16-nederlaag teen die All Blacks op Saterdag.

Soms het dit gelyk asof Nieu-Seeland net-net oorleef het teen die einde van die eerste helfte, maar hulle het steeds met ’n agterstand van nét 13-12 gaan rus. Hoe so?

Op ’n aand waarop hulle talle geleenthede gehad het, was die Springbokke hul eie grootste vyand, en alles het op uitvoering neergekom.

Die Springbokke het die bal 23 keer afgestaan, vergeleke met die All Blacks se 13 keer. Dit het onder meer ingesluit dat Malcolm Marx die bal verloor het in ’n dominante dryfmaal net voor rustyd toe hy oor die doellyn op pad was.

Die Bokke het minder duikslae as die All Blacks uitgevoer, maar meer duikslae verbrou.

Daar was egter ook aanslaan-foute, talle balle wat onakkuraat aangee is en ’n lang lys ander foute van Rassie Erasmus se span deur die loop van die aand.

Maar die een statistiek wat die Bokke slapelose nagte sal gee, is die gemiddelde punte aangeteken, elke keer as jy in die teenstanders se 22 m-gebied kom.

Hiér is die All Blacks loshande voor: Die Kiwi’s het gemiddeld 3,67 punte aangeteken elke keer wat hulle in die gebied gekom het. En die Bokke? Slegs 0,91 . . .

Die All Blacks, aan die ander kant, het hul kanse benut en die tafel mooi gedek vir die tweede toets in die Kaapstad-stadion.

Dit beloof om ’n spannende wedstryd te wees, maar die Springbokke sal aansienlik moet verbeter.

Belangrike statistieke uit die wedstryd

Omkeerbesit gewen

  • Springbokke: 5
  • All Blacks: 14

Omkeerbesit afgestaan

  • Springbokke: 23
  • All Blacks: 13

Strafskoppe afgestaan

  • Springbokke: 10
  • All Blacks: 14

Duikslae voltooi

  • Springbokke: 86
  • All Blacks: 132

Duikslae verbrou

  • Springbokke: 26
  • All Blacks: 20

Sukseskoers met duikslae

  • Springbokke: 77%
  • All Blacks: 87%

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos