Veteraanhaker Codie Taylor is terug en sal Nieu-Seeland aanvoer nadat die All Blacks-afrigter, Dave Rennie, nege veranderinge aan sy span aangebring het vir Saterdag se vierde toets teen Suid-Afrika in Baltimore.
Taylor, wat uit die All Blacks-groep gelaat is vir die 29-24 nederlaag in die derde toets in Johannesburg verlede Saterdag, vervang die beseerde kaptein Ardie Savea.

Die 35-jarige Taylor vorm deel van ’n heeltemal nuwe voorry, met Ethan de Groot en Fletcher Newell wat inkom vir George Bower en Tyrel Lomax.
Patrick Tuipulotu al diens doen op slot om saam met Sam Darry te speel, terwyl Tupou Vaa’i en Ethan Blackadder die flank-paar sal begin en Peter Lakai op agtsteman speel.
Agter die skrum vervang Richie Mo’unga vir Ruben Love op losskakel, terwyl Josh Moorby op vleuel begin in die plek van Leroy Carter. Carter het verlede Saterdag twee groot blapse op verdediging gemaak, wat beide deur die Springbokke met drieë gestraf is.
Anton Lienert-Brown vervang die beseerde Quinn Tupaea op senter.
“Ons het nog altyd beplan om ’n aantal veranderinge vir hierdie wedstryd aan te bring,” het All Blacks-afrigter Rennie gesê.
“Elke speler hier het die afgelope sewe weke ongelooflik hard gewerk om die span voor te berei vir die sewe wedstryde wat ons tot dusver gespeel het, en almal wat vir hierdie toets gekies is, verdien dit ten volle.
“Ons het alles om voor te speel Saterdag. Dit is ons kans om die reeks gelykop te maak en die toer af te sluit met ’n vertoning waarop ons trots kan wees.”
Die Springbokke is tans 2-1 voor in die Greatest Rivalry-reeks. Die laaste wedstryd word by Baltimore se M&T Bank-stadion gespeel as deel van pogings om rugby se aansien in die Verenigde State te verhoog voor die Wêreldbeker in 2031.
All Blacks-span vir Baltimore
- Ethan de Groot.
- Codie Taylor (kaptein)
- Fletcher Newell
- Patrick Tuipulotu
- Sam Darry
- Tupou Vaa’i
- Ethan Blackadder
- Peter Lakai
- Cam Roigard
- Richie Mo’unga
- Josh Moorby
- Jordie Barrett
- Anton Lienert-Brown
- Will Jordan
- Damian McKenzie
Plaasvervangers
16. Asafo Aumua, 17. Xavier Numia, 18. Tyrel Lomax, 19. Josh Lord, 20. Wallace Sititi, 21. Kyle Preston, 22. Rieko Ioane, 23. Beauden Barrett.
