Greatest Rivalry: Kolbe op heelagter, Sacha FM begin op 10 vir 3de Bok-toets

Bok-vleuel Cheslin Kolbe sal op heelagter begin.
Bok-vleuel Cheslin Kolbe sal op heelagter begin. Foto: Tim Clayton, Getty.

Springbok-afrigter Rassie Erasmus het vir die derde toets van die Greatest Rivalry-reeks teen Nieu-Seeland Saterdag op die FNB-stadion in Soweto grotendeels by sy wenkombinasies gehou. Slegs vier veranderinge is aan die beginspan aangebring, saam met Cheslin Kolbe wat in ’n ander posisie sal begin.

Die voorry van Ox Nche en Wilco Louw (stutte), asook Malcolm Marx (haker), keer terug na die beginspan. Gerhard Steenekamp, Thomas du Toit en Deon Fourie skuif gevolglik na die plaasvervangersbank.

’n Gedwonge verandering weens ’n besering aan die veelsydige agterspeler Damian Willemse beteken dat Cheslin Kolbe na heelagter skuif, terwyl Kurt-Lee Arendse weer as vleuel in die beginspan ingesluit word.

“Dit was nog altyd ons plan om ’n bietjie meer kontinuïteit in spelerkombinasies vir dié reeks te handhaaf, en ons het gevoel die spelers wat verlede week die werk vir ons gedoen het, het kalmte getoon en goed by die wedstrydplan gehou,” het Erasmus gesê.

“Ongelukkig het Damian Willemse in die eerste helfte ’n stamp opgedoen en was hy nie vir keuring beskikbaar nie. Handré Pollard was ook nie beskikbaar nie. Deur by hierdie kombinasies te hou en net een skuif te maak met Cheslin op heelagter, het ons gevoel dit is die beste opsie vir dié wedstryd.

“Kurt-Lee was ongelukkig om verlede week uit te mis nadat Cheslin herstel het. Ons is bly om hom terug te hê. Hy is ’n speler van gehalte en sy 25 drieë in 33 wedstryde wys presies watter soort speler hy is.”

Saterdag se toets skop om 17:10 af.

Springbokspan vir die derde toets

15. Cheslin Kolbe, 14. Kurt-Lee Arendse, 13. Jesse Kriel, 12. Damian de Allende, 11. Ethan Hooker, 10. Sacha Feinberg-Mngomezulu, 9. Cobus Reinach, 8. Jasper Wiese, 7. Pieter-Steph du Toit, 6. Siya Kolisi (kaptein), 5. Ruan Nortje, 4. Eben Etzebeth, 3. Wilco Louw, 2. Malcolm Marx, 1. Ox Nché.

Plaasvervangers: 16. Deon Fourie, 17. Gerhard Steenekamp, 18. Thomas du Toit, 19. Lood de Jager, 20. André Esterhuizen, 21. Cameron Hanekom, 22. Morné van den Berg, 23 Manie Libbok.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos