Van groen vlae en Springbok-truie tot ’n muur van geraas toe die Bokkebus opdaag. Soweto wys dat dié toets veel meer as net nog ’n wedstryd teen die All Blacks is. Met die reeks op 1–1 is alles op die spel.
Die groen-en-goud is volop. Aan lamppale. Om skouers. Oor motorvensters. In die hande van ondersteuners wat lank voor afskop reeds hul plek by FNB-stadion begin inneem het.
En toe die Springbok-bus uiteindelik opdaag, het die geraas ’n nuwe vlak bereik.
Vlae het in die lug geswaai, mense het oor die versperrings geleun en selfone is omhoog gehou om net ’n paar sekondes van hul helde se aankoms vas te vang.
’n See van groen en goud
Die atmosfeer rondom die FNB-stadion het ure voor afskop reeds soos ’n nasionale fees gevoel.
Springbok-truie het die skare oorheers. Sommige ondersteuners het hul ou gunstelingtruie uit die kas gehaal, ander het met nuwe truie en groen vlae opgedaag om hul steun vir die wêreldkampioene te wys.
Die braaivleisvure het sommer hoog gebrand, musiek het uit motors en luidsprekers geblêr en ondersteuners het saamgekuier terwyl die spanning vir een van die grootste wedstryde op Suid-Afrikaanse bodem opgebou het.
Toe die Bokkebus opdaag…
En toe kom die oomblik waarvoor baie gewag het. Die Springbok-bus het by die stadion opgedaag en die ondersteuners het dit met ’n oorverdowende geraas begroet.
Siya Kolisi het die span as kaptein gelei, en vir ’n oomblik was dit moeilik om te dink dat dit bloot nog ’n wedstryddag op die rugbykalender is. Hierdie een voel anders.
Die spelers het deur die skare se geraas en die groen-en-goud beweeg met die wete dat daar nie net 80 minute se rugby voorlê nie.
Rassie Erasmus weet egter dat die All Blacks nie maklik van hul koers afgedwing word nie. Volgens die Springbok-afrigter sal die span moet voortbou op die goeie begin wat hulle in Kaapstad gekry het, maar terselfdertyd waak teen Nieu-Seeland se vermoë om telkens terug te veg.
“Elke keer wanneer ons ’n bietjie voor is, ontspan ons dan ’n bietjie, of hulle veg regtig, regtig hard terug. Ek dink soms wanneer ons voor is met strafskoppe en sulke dinge, dan sit ons hulle weg. Maar hulle is ’n baie verenigde span. Hulle veg altyd terug, en dit is hoekom hulle nommer een of twee in die wêreld is. Hopelik, as ons wel ’n goeie begin kry, kan ek aanhou om daardie momentum te behou, want dit is wat hulle elke keer doen — hulle kom terug.”
Erasmus sê die reeks het ook ’n besondere uitdaging vir die afrigtingspan geskep. Met dieselfde teenstander wat week ná week voorberei word, moet die Springbokke terselfdertyd probeer om die reeks te wen én spelers geleenthede te gee.
“Dit is fantasties. Dit is baie lekker en natuurlik, soos julle kan sien, word dit in die weke voor die wedstryde ’n bietjie meer pittig. Maar dit is anders. Dit is amper soos ’n Wêreldbeker in die sin dat jy aan al jou spelers die geleentheid wil gee om teen Nieu-Seeland te speel, maar terselfdertyd wil jy probeer om die grootste wedywering te wen.”
“Dit is dus ’n bietjie moeiliker om jou groep te bestuur, om almal positief te hou en seker te maak almal is op dieselfde bladsy. Want al die spelers wil teen hulle speel, maar jy kan dit nie altyd doen as daar so ’n massiewe trofee op die spel is nie.”
Die Soweto-vloek wag nog
Die Springbokke het weliswaar vanjaar se tweede toets in Kaapstad gewen om die reeks gelyk te trek, maar FNB-stadion dra sy eie bagasie. Die Bokke het hier nog nooit die All Blacks geklop nie.
In 2010, tydens die Tri-Nations, het Nieu-Seeland met 29–22 gewen voor ’n rekordskare van 94 713. Dit was John Smit se 100ste toets, maar dit was die All Blacks wat die laaste sê gehad het.
Twee jaar later het die geskiedenis hom herhaal toe die All Blacks met 32–16 gewen het.
Veertien jaar later kry die Bokke nog ’n kans. En hierdie keer wil hulle nie net wen nie. Hulle wil die verlede begrawe.
Vir Erasmus is dit egter nie net oor die geskiedenis van die stadion nie. Hy weet ook hoe belangrik hierdie laaste tuistoets van die jaar vir die ondersteuners is.
“Toe ons besluit het ons gaan hier kom speel, het ons natuurlik gehoop dat baie van die plaaslike mense sou inkom. Ek weet die kaartjies is ’n bietjie duur, maar ons het hulle gesien toe ons hierheen gery het.”
“En ja, ons laaste wedstryd tuis is natuurlik baie belangrik, maar vir die hele Suid-Afrika is dit skouspelagtig.”
