Haak hom, Vrystaat! Kunstefeeste is die plek waar dinge gebéúr, ook vir die jeug

Jaco Jacobs. Foto: Verskaf
Jaco Jacobs. Foto: Verskaf

Digitaal oorheers op soveel vlakke, maar watter wesenlike ervarings kan daar vir die volgende generasie geskep word? Hoe kan daar gesorg word dat kinders en tieners steeds met die regte wêreld verbind bly in ’n tyd waarin skerms, sosiale media en kunsmatige intelligensie (KI) al hoe meer van hul aandag opeis?

Volgens die bekroonde jeugskrywer Jaco Jacobs, wat vanjaar sy 25ste jaar in die jeugboekbedryf vier en self pa van twee tieners is, speel kunstefeeste ’n onmisbare rol om jongmense aan egte ervarings bloot te stel. Hy is baie nou betrokke by die Vrystaat Kunstefees.

“Die fees is ’n fantastiese geleentheid om kinders aan teater, musiek en ander kunsvorme bekend te stel,” sê Jacobs.

 “Maar dit is ook ’n kans om kinders se oë van skerms weg te kry en hulle weer ’n bietjie in die regte wêreld te laat leef. Die fees is ’n heerlike geleentheid om tyd saam as gesin deur te bring, en die stalletjies, kos, gesprekke en vertonings saam te geniet. Regte, egte pret met niks daarvan kunsmatig nie.”

Jacobs waarsku ook teen die gevaar dat jongmense kreatiewe prosesse aan tegnologie kan afstaan. Een van die werkswinkels by vanjaar se fees fokus op kreatiewe skryfwerk vir kinders, iets wat volgens hom belangriker is as ooit.

“Skryf gaan oor meer as skoolpunte en werkstukke. Dit gaan daaroor om jouself te leer verstaan, jouself te leer uitdruk, jou taal en talente te slyp, en met woorde jou stempel op die wêreld af te druk,” sê hy.

Hoewel Jacobs self met KI eksperimenteer en die moontlikhede daarvan ondersoek, glo hy dit moet ’n hulpmiddel bly en hoegenaamd nie ’n plaasvervanger vir menslike kreatiwiteit nie.

“Moet nooit toelaat dat KI jou skeppende proses kortpaaie laat neem nie. Jou kreatiwiteit, jou vermoë om te skep, jou mening en jou talent is die dinge wat jou in die toekoms gaan laat uitstaan bo die eenvormige, grys KI-geskepte massas. Koester dit en slyp dit.”

Interessant genoeg sien hy reeds tekens van hoop in die volgende geslag.

“My eie kinders is baie KI-sku. Hulle verpes KI-geskepte beelde en musiek, en is van nature skepties oor inligting wat deur KI gegenereer is. Hopelik dui dit op ’n generasie wat nie bereid is om KI sommer net vir soetkoek op te eet nie.”

Wat sê die feesdirekteur van die Vrystaat Kunstefees?

Feesdirekteur, Michael Garbett, saam met Gerrie Lemmer en Magon Mouton van die ATKV.
Feesdirekteur, Michael Garbett, saam met Gerrie Lemmer en Magon Mouton van die ATKV. Foto: ZitaFilmz.

Michael Garbett, feesdirekteur, sê kunstefeeste dien as ’n belangrike herinnering dat jongmense meer nodig het as inhoud om te verbruik. Hulle het stories nodig om te beleef, kunstenaars om te ontmoet, gesprekke om deel van te wees en ervarings wat hulle inspireer om self te droom, te skep en hul eie stemme te ontdek.

“Want uiteindelik is die kunste nie net vermaak nie. Dit help om die volgende geslag se verbeelding, menslikheid en kreatiwiteit te vorm.”

Die Vrystaat Kunstefees vind vanaf 7 tot 11 Julie 2026 plaas.

Wat jy dalk nie van Jaco Jacobs geweet het nie

Jaco Jacobs. Foto: Verskaf
Jaco Jacobs. Foto: Verskaf

Hy is ’n boorling van die geskiedkundige dorpie Carnavon in die Noord-Kaap. Benewens dat die dorpie naby aan die SKA-radioteleskoop en MeerKAT-projekte is waar daar na die diepste geheime van die heelal geluister word, is dit ook bekend vir die eiesoortige korbeelhuisies wat rondom 1811 tot 1815 deur pioniers gebou is.

Volgens hom het hy sy eerste storie as sewejarige geskryf en sommer self ook geïllustreer, “maar dit was so simpel, nie eers my ma en pa wou dit lees nie”. Maar hy is ’n bittereinder en sy eerste boek, Pretpark, het aan die einde van sy matriekjaar die lig gesien. Dit is heelwat later gepubliseer.

Kovsies het gevolg vir ’n graad in Kommunikasiekunde en ’n honneurs in Afrikaans en Nederlands. Hy het ook ’n tyd lank vir Die Volksblad gewerk.

Na nog ’n paar ander draaie in die bedryf skryf hy nou voltyds en doen ook vertaalwerk. Troeteldiergedrog (2001) was sy eerste gepubliseerde boek – en sedertdien het daar reeds 290 boeke wat uit sy pen gevloei!

Jaco se boeke het reeds 36 keer die ATKV-Kinderboektoekenning ingepalm. Die eerste toekenning was vir Liefde laat jou Rice Krispies anders proe (2004), gevolg deur sy matriekpennevrug, Pretpark (2005). Dan is daar onder andere die Alba Bouwerprys (drie keer), die Tienie Holloway-medalje, die C.P. Hoogenhoutmedalje, die Scheepersprys vir Jeugliteratuur . . . en die lys van erkennings hou net aan en aan!

Bykomende bron: Jaco Jacobs


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie