Harde houe: Oud-Bok Jannie du Plessis sê Bokke moet All Blacks soos Mike Tyson tref

Bok-flank Pieter-Steph du Toit hardloop bal in hand tydens ’n vorige wedstryd teen die All Blacks.
Bok-flank Pieter-Steph du Toit hardloop bal in hand tydens ’n vorige wedstryd teen die All Blacks. Foto: AFP.

Die Springbokke is die “Mighty” Mike Tyson waarteen die All Blacks hulle gaan vandag vasloop het Jannie du Plessis, oud-Bokvoorryman, verklaar.

Met ’n amper aanvoelbare stilte wat vanoggend oor die land begin toesak het voor die Greatest Rivalry-storm wat later op Ellispark losbars, was ontleders die afgelope dae al hoe versigtiger oor die eerste toets van vier se moontlike uitslag.

Du Plessis het gisteraand op die kykNET-sportprogram Toks ’n Tjops gesê die All Blacks hou daarvan om die bal aan te gee voor kontak. Hulle kon dit die afgelope weke teen die Suid-Afrikaanse provinsiale spanne regkry.

Maar Du Plessis het gevra of hulle dit gaan regkry as hulle teruggeduik en teruggeskrum word. Hy twyfel.

“Mike Tyson het gesê elkeen het ’n plan tot hy in die gesig geslaan word. Ek dink die Bokke gaan die All Black se Mike Tyson wees.”

Nieu-Seelandse ontleders en rugbyskrywers, wat aanvanklik meer bedees was oor die Silwervarings se wenkanse het nou skielik vlam gevat. Bok-onderseuners was veral rooi onder die kraag oor die Kiwi-joernalis van Rugbypass wat nou paniek in die Bok-kamp sien en reken die All Blacks kan met 15 tot 20 punte wen.

Nóg temas in aansluiting by Dave Rennie, All Black-afrigter, is dat die Bokke die speltempo doelbewus gaan vertraag. Ook dat die Bok-kamp die skeidsregters met vals bewerings probeer intimideer.

Heelwat oud-All Blacks, soos Andrew Merthens, meen egter die toets op “Ellispark is die een wat All Blacks nie verwag om te wen nie”. Hy het op die podsending Boks Unpacked gesê hulle het ’n beter kans in Kaapstad.

  • Die afskoptyd vandag is om 17:10 en die wedstryd word op SuperSport-kanale 201 en 211 uitgesaai.

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos