Hennie Koortzen bekyk die Varsitybeker se fees van drieë vanjaar

Abel Pretorius, flank van Tuks, kan die Maandagaand die Arende se verdedigers weer besig hou.
Abel Pretorius, flank van Tuks, kan die Maandagaand die Arende se verdedigers weer besig hou. Foto: Sydney Seshibedi/Gallo Images.

Altesaam 189 drieë is tot dusver gedruk in die Varsitybeker-reeks teen ’n gemiddeld van byna 12 drieë per wedstryd.

Ná afloop van die vierde ronde, word vanjaar se reeks gekenmerk deur die hoë tellings wat aangeteken word en die groot hoeveelheid drieë wat gedruk word.

In die wedstryd tussen Ikeys en die Universiteit van Johannesburg is ’n totaal van 15 drieë gedruk. Ikeys het 11 drieë ingeryg in ’n oordonderde wenvertoning van 87-18.

Tuks het ook 11 drieë teen die Ikeys gedruk en oortuigend met 78 -17 gewen om hulle onoorwonne status en eerste plek op die punteleer te behou.

Die flank, Abel Pretorius, en die vleuel, Andile Myeni, wat elk ’n drieë-driekuns behaal het, was van Tuks se uitblinkers.

Die Noordwes Universiteit Arende, wat in die derde rondte teen UJ vasgeval het, is tweede op die punteleer ná ‘n belangrike wegoorwinning met 45-31 oor die Shimlas met die flank, Ricardo Fourie, wat met sy uithalerspel as Speler van die Wedstryd aangewys is.

Die Junior Springboksenter, Samuel Badenhorst, wat twee van Maties se nege drieë gedruk het, was een van sy span se uitblinkers in hulle oorwinning van 55-20 oor Emeris.

Die tikskoppie-reël, waar spanne kan besluit om ’n tikskoppie te neem op die kwartlyn in plaas daarvan om ’n drie te verdoel, kan bydra tot die groter hoeveelheid drieë. Die feit dat ’n span se plek op die punteleër vanjaar deur hulle aantal drieë bepaal kan word, speel beslis ook ’n rol.

Spanne wat dieselfde hoeveelheid punte op die punteleer het, se posisie is in die verlede deur punteverskil bepaal, maar vanjaar is dit aangepas en gaan dit oor die hoeveelheid drieë wat ’n span gedruk het.

Shimlas, Maties en UJ het byvoorbeeld op die oomblik al drie 11 punte, maar Shimlas is in die 4de plek, omdat hulle 27 drieë gedruk het teenoor Maties se 24 en UJ se 20 drieë.

Wedstryde om na uit te sien in die volgende ronde is Ikeys se tuiswedstryd teen Maties. Tuks reis na Potchefstroom om met die Arende gaan kragte meet, terwyl UJ die Shimlas in Johannesburg gaan verwelkom.

Die taktiese spel van die twee skakelpare – Mooray Daars en Alex Vermeulen van Ikeys en Imad Khan en Kyle Smith van Maties – kan deurslaggewend wees.

Die tweestryd tussen die haker van Tuks, Jean Fourie, en sy direkte teenstander van die Arende, Jordan McLoughlin, kan vir baie opwinding sorg.

Hou gerus die tweestryd tussen die uitgeslape skrumskakels, Zian Cilliers van UJ en Erich Visser van die Shimlas dop wat beide die vermoë het om hulle spanne op die voorvoet te plaas.

Artikel deur Hennie Koortzen


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie