Die Hooggeregshof in Pretoria het Maandag in ’n uitspraak verklaar dat die bekende politikus Mosiuoa Gerrard Patrick Lekota, ook bekend as “Terror”, van 25 Mei 2025 tot sy dood op 4 Maart 2026 nie in staat was om sy eie sake te bestuur nie.
Die aansoek is ingedien deur Lekota se wettige vrou, Ntombenhle Lekota (75), wat met hom in gemeenskap van goedere getroud was sedert 17 April 1975.
Ondanks hul huwelik het die egpaar sedert 2010 apart gewoon, sy in Bloemfontein, en hy in Gauteng, waar hy ’n verhouding gehad het met adv. Luzelle Adams, by wie hy ’n minderjarige seun (16) het.
LEES | Outspoken Lekota regarded as the embodiment of a life of courage, integrity, and service to the nation
Lekota se gesondheid het sedert 2018 agteruitgegaan toe hy ’n beroerte gehad het, gevolg deur prostaatkanker. Op 25 April 2025 het hy ’n knie-operasie ondergaan, maar die dag ná hy ontslaan is, het hy weer ’n beroerte gehad en is in die hoësorg-eenheid opgeneem.
Toe Ntombenhle haar man in Januarie 2026 besoek het, was sy geskok oor sy toestand. Hy kon nie onthou of hul siekefonds nog aktief was nie, ook nie sy finansiële adviseur se naam nie, en het geen kennis gedra van sy bankrekening-besonderhede nie.
Meer verontrustend was toe hy Adams verwar het met die moeders van sy ander kinders en beweer het dat sy hom op Robbeneiland ondersteun het, ’n tydperk toe Adams nog nie eens gebore was nie.
