Die konstitusionele hof se uitspraak wat Shell en Impact Africa in hul spore gestuit het om vir olie en gas in die see by die Wildekus te soek, het verreikende gevolge vir alle maatskappye wat meen hul “groot beleggings” in nuwe ontwikkelings weeg swaarder as die regte, belange en wense van geraakte gemeenskappe.
Die meerderheid regters van die konstitusionele hof het bevind die goedkeuring van Shell en Impact Africa se eksplorasieregte is onwettig, omdat die maatskappye nie behoorlik met geraakte gemeenskappe gekonsulteer het nie.
Die konstitusionele hof het beslis inheemse mense en burgers van Suid-Afrika het die reg om “aansoeke vir ontwikkelings” te weier as dit hul kultuur, lewenswyse, die ekologie en hul grond raak.
Regter Jody Kollapen het in die uitspraak gesê voornemende ontwikkelings kan nooit swaarder weeg as die regte en belange van geraakte gemeenskappe nie.
Sinvolle oorlegpleging is daarom van uiterste belang, het Kollapen benadruk.
Mislukte oorlegpleging met gemeenskappe kan nie “ná die tyd” reggestel word nie, het hy gesê.
“Oorlegpleging met gemeenskappe gaan nie net daaroor om ’n siening uit te spreek oor voorgenome ontwikkeling nie. Dit is ’n proses wat menswaardigheid in ag neem deur gemeenskappe, wat direk daardeur beïnvloed sal word.”

Luidens die uitspraak behoort gemeenskappe nie as “ ’n struikelblok” gesien word nie, maar as ’n aktiewe deelnemer aan die proses.
Kollapen het gesê: “Die beskerming van ekologiese stelsels is onlosmaaklik verbonde aan die regte van gemeenskappe.”
Nonhle Mbuthuma, woordvoerder van die Amadiba, het gesê die wenner van die konstitusionele hofsaak, is Moeder Aarde. “As Moeder wen, dan wen ons almal.”
Sy het gesê die regering bevorder nie meer ontwikkeling in belang van mense en in lyn met die grondwet nie.
ActionAid se Pooven Moodley, sê die uitspraak is ’n “oorwinning vir alle gemeenskappe in Suid-Afrika”.
“Gwede Mantashe, minister van minerale en petroleum hulpbronne, wat hom in die saak by Shell en Impact Africa geskaar het, het gedink hulle kan met dié projek voortgaan sonder om behoorlik met gemeenskappe te konsulteer.”

Shell probeer sedert 2012 oor ’n gebied van 6 000km in die Indiese Oseaan by die Wildekus seismiese toetse doen in ’n soektog na olie en gas.
Natural Justice, een van die nie-regeringsorganisasies wat die Amadiba Crises Committee (ACC) in konstitusionele hof verteenwoordig het, het in reaksie gesê die uitspraak skep ’n “kritieke presedent” wat ander gemeenskappe wat voor dieselfde uitdagings te staan kom, sal bemagtig.
Die saak spruit uit ’n eksplorasiereg wat in 2014 aan Impact Africa toegestaan is vir olie- en gaseksplorasie aan die Wildekus. Shell en Impact Africa het later elk ’n belang van 50% in die eksplorasiereg gehad.
Die meerderheidsuitspraak, wat deur Kollapen geskryf en deur ses ander regters gesteun is, lui Shell en Impact Africa moet van voor af vir eksplorasieregte aansoek doen as hulle met die proses wil voortgaan.
Shell het Maandag in ’n verklaring gesê dié maatskappy neem kennis van die konstitusionele hof se uitspraak. Die maatskappy het bygevoeg hy is verbind tot “verantwoordelike eksplorasie in die oseaan, betekenisvolle oorlegpleging met gemeenskappe en omgewingsbewaring”.
“Suid-Afrika is tans afhanklik van die invoer van hulpbronne vir baie van sy energiebehoeftes.
“As voldoende energiehulpbronne in die oseaan gevind word, kan dit baie bydra tot die land se energiesekerheid en die regering se ekonomiese ontwikkelingsplanne.”
Shell het nie gereageer op navrae oor wat die maatskappy nou beplan nie.
