Meer as die helfte van globale huishoudings het troeteldiere en dit het met baie meer te doen as vermaak.
Mense is biologies bedraad om verhoudings met ander lewende wesens te smee en dit gaan oor die behoefte om vir diere om te gee en hulle te versorg, volgens navorsing wat Science Insights publiseer het.
Diegene wat aandui dat hul verhoudings met troeteldiere meer waardevol is as met ander mense, voer aan “diere is meer betroubaar, oefen nie waarde-oordele uit nie, hou nie ’n wrok nie en stuur nie gemengde seine nie. Hulle hou ook nie dieselfde emosionele bedreiging as ander mense in nie.”
Die eienaarskap van ’n troeteldier “vervang nie menslike verhoudings nie, maar verskaf ’n bestendige emosionele basis wat ander verhoudings makliker maak om te bestuur”, lui die artikel.
Die Wêrelddierestigting verklaar honde is universeel die gewildste troeteldier, gevolg deur katte.
Dié twee dieresoorte verteenwoordig 60% van troeteldiere in die meeste lande.
Daar is meer as ’n miljard katte op aarde, gevolg deur 900 miljoen honde, hoewel meer honde as troeteldiere aangehou word.
Visse in binnenshuise tenks, voëls, konyne en hamsters is volgende op die ranglys, gevolg deur marmotte en reptiele soos miniatuur-drake.
Dan volg onder meer slange, skilpaaie, hoenders, bokke en miniatuur-varkies.
Perde is ook ’n gewilde troeteldier onder plaasdiere, waarmee mense ’n nabye verhouding handhaaf.
Swede het die strengste dierewelsynwette. Honde en katte mag nie sommer meer alleen gelaat word nie en hul eienaars moet minstens twee keer per dag by hul katte inloer om seker te maak alles is in orde.
Dit is ingevolge nuwe wetgewing vanjaar.
Regulasies bestaan reeds wat bepaal dat mense gereeld met hul honde moet gaan stap.
Die strenger katregulasies behels ook dat kleintjies tot minstens 12 weke by hul ma moet bly en hul naels nie afgesny mag word nie tensy daar mediese redes is.
Binnenshuise katte moet krapoppervlaktes, wegkruipplekke, natuurlike daglig en klimplek kry.
