John Deere beplan oudergewoonte maande lank vir Nampo

Die John Deere-uitstalling by Nampo.
Die John Deere-uitstalling by Nampo. Foto: Shanell Binedell.

John Deere se indrukwekkende teenwoordigheid by Nampo gebeur nie oornag nie.

Volgens Hentie Breedt, integrasiebestuurder van John Deere, verg die reuse-uitstalling maande se beplanning, koördinering en voorbereiding.

“Wanneer Nampo klaar is, ontspan almal vir ’n paar weke, en dan begin ons reeds met die volgende jaar se beplanning,” sê Breedt.

Hy verduidelik dat idees en konsepte reeds maande voor die skou begin vorm aanneem, met verskillende afdelings wat saamwerk om produkte te kies, uitlegte te beplan en logistiek te koördineer.

Volgens Breedt is byna elke afdeling binne die maatskappy betrokke by die voorbereiding van die hul uitstalruimte. Buiten interne personeel, word eksterne kontrakteurs ook gebruik om die strukture, rame en opstelling van die uitstalling te bou.

“Die eerste konstruksie het reeds drie weke voor die skou begin, toe die hoofstruktuur van die stalletjie opgerig is. Daarna het alles geleidelik begin saamkom,” sê hy.

Hy voeg by dat die laaste week voor die opening beslis die besigste is. “Dis wanneer al die fyner dingetjies in plek moet kom: Van die ligte en uitleg tot die masjinerie self,” verduidelik Breedt.

Hoewel die groot trekkers en moderne toerusting baie aandag trek, sê hy die fokus bly steeds op die mense wat dit gebruik. “Die belangrikste deel van Nampo is die boere. Ons wil verstaan wat op die plase aangaan, watter uitdagings hulle ervaar en hoe ons moontlik ondersteuning kan bied,” sê hy.

Volgens Breedt sien John Deere die skou ook as ’n geleentheid om dankie te sê aan die landbougemeenskap. “Dit is vir ons ’n manier om waardering te wys vir die ongelooflike ondersteuning wat boere oor die jare aan ons gegee het,” sê hy.

John Deere is al vir dekades deel van Nampo en bly een van die bekendste name op die skouterrein, waar duisende besoekers jaarliks die jongste landboutegnologie en toerusting kom aanskou.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie