John Steenhuisen se laaste toespraak as DA-leier: ‘Ons is nie meer ’n opposisie nie, ons is ’n nasionale krag vir hervorming’

DA-leier, John Steenhuisen, tydens ’n toespraak verlede jaar.
DA-leier, John Steenhuisen, tydens ’n toespraak verlede jaar. Foto: Facebook.

Dit is sy laaste toespraak as die leier van die Demokratiese Alliansie. Ja, John Steenhuisen kan met ’n “vol hart, diep dankbaarheid en ontsaglike trots” dié party op ’n beter plek agterlaat as toe hy in 2019 die leisels oorgeneem het, sê hy.

“Nie net is die blou-masjien sterker en gesonder as ooit nie, nie net peil ons nou gereeld naby aan 30% nie, maar vir die eerste keer in ons party se geskiedenis regeer die DA nou saam in Suid-Afrika,” het Steenhuisen tydens sy toespraak gesê.

Noudat die DA as deel van die regering van nasionale eenheid in Suid-Afrika regeer, kon die DA bewys dat hulle vir alle Suid-Afrikaners dienste kan lewer, sê Steenhuisen.

“Regoor stedelike en landelike gebiede, in townships en voorstede, in groot stede en klein dorpies, ervaar Suid-Afrikaners die verandering wat die DA gebring het.”

Steenhuisen meen dit is nie net hul harde werk in lanbou, basiese onderwys, binnelandse sake en openbare werke waar die DA se ministers se harde werk raakgesien kan word nie. Nee, dit is ook in hul standvastigheid om ’n verhoging in BTW te veg, die regering te dwing om die brandstofheffing te verlaag, hof toe te gaan teen die onteieningswet en nasionale gesondheidsversekering teen te staan.

“Selfs wêreldwyd is liberale waardes onder druk. Populisme en etniese nasionalisme neem toe, maar die DA glo steeds dat diversiteit nie ’n swakheid is nie, maar ’n krag.”

Suid-Afrika kan werk, nie ten spyte van diversiteit nie, maar juis daarom, sê hy.

“Die regering van nasionale eenheid is ’n historiese geleentheid om mense te herenig: Ons moet dit aangryp.”

Vir John Steenhuisen, wat steeds die DA op die grond sal ondersteun, kan die party net van krag tot krag gaan.

“Ons is nie meer ’n opposisie nie, ons is ’n nasionale krag vir hervorming.”


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie