Junior Bokke slaggereed vir eindstryd-uitdaging, sê afrigter

Kevin Foote, afrigter van die Junior Springbokke.
Kevin Foote, afrigter van die Junior Springbokke. Foto: SA Junior Rugby/Facebook.

Junior Bok-afrigter, Kevin Foote, sê sy span is gereed vir die uitdaging wat Frankryk in Saterdag se o. 20-Wêreldkampioenskap-eindstryd bied.

Suid-Afrika jaag ’n tweede agtereenvolgende wêreldtitel na en sal graag ’n goeie toernooi op ’n nóg beter noot wil afsluit.

Foote het ná die aankondiging van sy span gesê die groep het die afgelope week gefokus op die areas waarin hulle moes verbeter om weer as wêreldkampioene gekroon te word.

“Hierdie groep is sedert die begin van die jaar saam en verstaan die manier waarop ons wil speel,” het Foote gesê.

“Ons het dié week gebruik om ons gereedheid op te skerp en aandag te gee aan die areas waar ons gevoel het ons kan verbeter.

“Die aangename aspek van hierdie groep is hul eerlikheid en aanspreeklikheid. Die spelers is oop met mekaar in hul evaluasies, en saam het ons oplossings gevind en hard aan daardie aspekte gewerk. Ons glo ons is goed voorberei vir wat ’n groot uitdaging gaan wees.”

Siphosethu Mnebelele, kaptein van die Junior Bokke.
Siphosethu Mnebelele, kaptein van die Junior Bokke. Foto: Timothy Rogers, Getty Images.

Foote het die hele groep geloof vir hul vertonings deur die toernooi en gesê elke speler het ’n bydrae gelewer om die span vir ’n tweede opeenvolgende eindstryd te kwalifiseer.

“Die uitstaande eienskap van hierdie groep is die band wat hulle deel en hoeveel hulle dit geniet om Suid-Afrika te verteenwoordig. Ons ontleed steeds ons spel en weet daar is nog ruimte vir verbetering.

“Frankryk is ’n uiters sterk span en verdien hul plek in die eindstryd. Hul vertonings in die onlangse Wêreldkampioenskap en Sesnasies-reeks wys dat hulle weet hoe om uitkloprugby te hanteer.”

Junior Bokke.

Met die oog op Saterdag se kragmeting sê Foote die Junior Bokke sal getrou bly aan hul spelidentiteit, maar terselfdertyd taktiese dissipline handhaaf.

“Ons wil aanhou speel op die Suid-Afrikaanse manier,” het hy gesê. “Dit beteken om ons fisiekheid te gebruik om momentum te skep, die voordeellynstryd te wen en met tempo en intensiteit te speel.

“Ons vaste fasette sal belangrik wees om ’n stewige grondslag te lê, maar ons sal ook slim en akkuraat moet wees, veral op verdediging. Ons voorbereiding het uitstekend verloop. Die spelers het duidelikheid oor ons spelplan, hulle vertrou mekaar, en daar is opregte opgewondenheid oor die geleentheid wat voorlê.”

  • Die Junior Bokke speel Saterdag om 18:30 teen Frankryk in die eindstryd.

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie