K-pop maak geskiedenis by die Oscars

Koreaanse popmusiek is al vir jare lank ’n gunsteling, maar dit het vanjaar geskiedenis gemaak.

Koreaanse popmusiek, oftewel K-pop, maak vanjaar geskiedenis nadat die liedjie “Golden” van die Netflix-animasiefliek K-Pop Demon Hunters vir beste oorspronklike liedjie by vanjaar se Oscars genomineer is – ’n eerste vir dié genre.

Vanjaar se Oscars vind Maandag 16 Maart by die Dolby-teater in Los Angeles plaas.

K-pop is ’n genre wat in Suid-Korea sy oorsprong het en is ’n mengsel van pop, hip-hop, R&B en elektroniese klanke, gekombineer met intense dansroetines en ’n kleurvolle visuele styl. Die genre se aanhangersgemeenskappe is wêreldwyd verbind deur digitale platforms soos YouTube en TikTok.

Hoewel die liedjie oorspronklik as die klankbaan vir Netflix se K-Pop Demon Hunters deur musiekvervaardiger Ian Eisendrath en sanger-liedjieskrywer EJAE vervaardig is, was dit juis op TikTok waar jonk en oud op “Golden” se aansteeklike ritme gedans het.

Die animasiefliek is deur Sony Pictures Animation vervaardig, wat die verspreidingsregte aan Netflix vir $100 miljoen (R1,7 miljard) verkoop het. Dis op 20 Junie verlede jaar op Netflix beskikbaar gestel en het vinnig meer as 500 miljoen kykers wêreldwyd gelok.

Ook “Golden” het vinnig die Billboard Hot 100 gehaal.

Ander snitte uit die animasie, soos “Soda Pop” en “Your Idol”, het ook hoë posisies behaal.

“Vir ons was dit ’n treffer, maar ons het nooit gedink hierdie liedjie sou so ver kom nie,” het EJAE, wat “Golden” as die karakter Rumi sing, aan Netflix se nuusplatform Tudum gesê. Sy doen wel nie Rumi se dialoog nie.

“Ek kan onthou ek was in ’n taxi op pad na die tandarts toe, toe ek vir die eerste keer na die liedjie geluister het. Ek het ’n goue stopsel gaan kry – dit is iets wat ek voel ek altyd moet uitwys wanneer ek oor “Golden” praat,” het EJAE gesê.

K-Pop Demon Hunters volg die fiktiewe K-pop-meisiegroep HUNTR/X (Rumi, Mira en Zoey), wat deur die dag as popsterre optree en in hul vrye tyd geheime demonejagters is wat die wêreld teen bose kragte beskerm.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie