Die Australiese fietsryer Luke Durbridge het hom aangesluit by ‘n groeiende groep ryers wat die organiseerders van die Tour de France versoek om skofte vroeër te laat begin om sódie warmste deel van die dag te vermy terwyl Frankryk steeds onder ‘n hittegolf gebuk gaan.
Die organiseerders, ASO, het Saterdag aangekondig dat Sondag se negende skof van Malemort na Ussel in die Corrèze-streek sowat 30 km verkort sou word weens ‘n “rooi waarskuwing” vir uiterste hitte wat deur Météo France uitgereik is.
Hoewel verskeie ryers die besluit verwelkom het, meen Durbridge – een van die Tour se mees ervare deelnemers wat vanjaar vir die 12de keer aan die wedren deelneem – dat ASO en die fietsryowerhede verder moet gaan.
“Dit is ongelooflik warm,” het die 35-jarige Australiër voor die aanvang van die skof gesê. Dit was op ‘n dag toe temperature weer na verwagting rondom 40 °C sou bereik.
“Dit maak beslis ‘n verskil en ons waardeer die verandering. As aardverhitting voortduur soos tans die geval is, sal ons waarskynlik die begintye van skofte moet aanpas.”
Die Vereniging van Professionele Fietsryers (CPA) het Sondagoggend gesê hulle is reeds in gesprek met ASO oor aanpassings weens die hitte.
“Gegewe die toenemende voorkoms van uiterste hittegolwe, beklemtoon die CPA dat die begintye van somerwedrenne moet verander om atlete se gesondheid te beskerm,” het die organisasie gesê.
Die vereniging het gevra vir dringende samesprekings tussen alle rolspelers gedurende die winter om veranderinge betyds vir volgende jaar se Tour de France deur te voer.
“Indien sulke toestande weer voorspel word, sal ‘n wegspring om 09:30 of 10:00 ideaal wees. Dan is ons klaar en terug by die hotel voordat dit té warm raak,” het Durbridge, van die Jayco AlUla-span, gesê.
Sondag se skof sou oorspronklik om 13:45 begin en omstreeks 17:30 eindig – juis gedurende die warmste deel van die dag.
Die verkorting van die skof tot 155 km is egter goed ontvang.
“Dit beteken 45 minute minder in die oond,” het die Franse fietsryer Benjamin Thomas voor die skof gesê.
“Dit sal ons liggame ‘n bietjie verlig.”
Hy het egter gewaarsku dat ‘n korter skof ook onbedoelde gevolge kan hê.
“Soms maak ‘n korter roete die wedren selfs meer onvoorspelbaar en intens. Dan dink almal hulle kan sommer van die eerste 20 km af voluit ry, want as jy in die regte wegbreekgroep beland staan jy ‘n beter kans om te wen.”
Dit was inderdaad die geval met die ryers wat ondanks die heuwelagtige terrein byna 47 km in die eerste uur afgelê het.
‘Bly koelkop’
Dis egter nie so eenvoudig om die begintye van Tour-skofte te vervroeg nie.
“Dit is maklik vir ons om te sê: Hoekom begin ons nie vroeër nie?” het Charly Wegelius, hoofsportdirekteur van EF Education-EasyPost, gesê.
“Maar om die skedules van 190 TV-kanale, padsluitings, permitte en al die logistiek te verander gebeur nie sommer binne vyf minute nie.
“Ons moet koelkop bly en besef almal probeer hul bes. Elke rolspeler het sy eie beperkings.”
Langs die Suc au May-klim, sowat 70 km in die skof, het ondersteuners met emmers ys en genoeg vloeistowwe gereed gestaan om die hitte te trotseer.
Bo-op die klim is ‘n oop gebied sonder bome wat plaaslik as “die oond” bekend staan.
