Kenner verduidelik hoe ’n HIA-toets werk en hoekom Arendse weer Saterdag kan speel

Bulls-vleuel Kurt-Lee Arendse.
Bulls-vleuel Kurt-Lee Arendse. Foto: Facebook.

Die bekende sportwetenskaplike Ross Tucker het verduidelik waarom die Springbok-vleuel Kurt-Lee Arendse Saterdag in die tweede toets teen die All Blacks in Kaapstad kan speel.

Arendse is in die eerste toets op Ellispark van die veld gehaal vir ’n kopbeseringsevaluering (HIA) en het nie teruggekeer nie.

Tucker het op sosiale media gesê dat HIA-toetse wat twee uur ná die wedstryd en weer twee dae later gedoen word, bepaal of ’n speler weer vir keuring beskikbaar is, selfs al het hy nie Saterdag na die veld teruggekeer nie.

“Die HIA1-toets, wat ten tyde van die kopimpak gedoen word, is nooit ’n diagnostiese toets vir harsingskudding nie. Dié toets help net om te besluit of die speler tydens die betrokke wedstryd van die veld verwyder moet word of kan terugkeer. Die diagnose word gemaak op grond van toetse wat twee uur en twee dae ná die wedstryd gedoen word,” het Tucker op X gesê.

“Dit geld vir beide HIA-waarskuwingsverwyderings en gevalle waar ’n speler vir kliniese redes van die veld gehaal word vir ’n HIA1-toets. ’n Harsingskuddingsdiagnose word ná die wedstryd gemaak, nie tydens die wedstryd nie.”

Tucker het beklemtoon dat wanneer ’n speler ’n HIA-toets druip, dit nie noodwendig beteken dat hy harsingskudding opgedoen het nie.

“As ’n speler die HIA1-siftingstoets druip, beteken dit nie noodwendig harsingskudding nie, maar hy word vir die res van die wedstryd van die veld gehou. Die stelsel is só ontwerp om die mees voorsorgmaatreël-optrede moontlik aan te moedig tydens die oomblik van grootste risiko, met ander woorde om die speler eerder onmiddellik ná ’n kopimpak te verwyder, en om die risiko te verminder dat ’n speler teruggestuur word bloot om ’n harsingskuddingsdiagnose te vermy,” het Tucker gesê.

Libbie Janse van Rensburg het voorheen op die Narratief met Bouwer Bosch-podsending verduidelik dat die HIA-toets wat tydens ’n wedstryd gedoen word, teen elke speler se eie maatstaf gemeet word. Dit is klein toetse om bv. te bepaal hoeveel woord iemand kan onthou, en as dit minder is as wat daardie einste persoon voor ’n wedstryd kan onthou, dan tree die dokters in.

Saterdag se toets in Kaapstad skop om 17:10 af.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos