Springbokkaptein Siya Kolisi het beklemtoon dat Saterdag se wedstryd teen die Barbarians by die Nelson Mandela Bay Stadium geensins as ’n bloot vriendskaplike of uitstallingswedstryd beskou word nie.
Voor die afskop om 15:00 het Kolisi gesê die Springbokke benader die kragmeting as ’n volwaardige toetswedstryd, veral omdat spelers vir plekke in die span meeding aan die begin van die 2026-seisoen.
“Vir ons is dit nooit ’n feeswedstryd nie. Ons speel ’n behoorlike toetswedstryd. Ons speel immers vir Suid-Afrika,” het Kolisi gesê.
Hy het verder verduidelik dat verskeie spelers nou die geleentheid kry om hul waarde te bewys en dat die span daarop gefokus is om die seisoen met ’n positiewe uitslag te begin.
“Dit is ons eerste wedstryd van die jaar, daarom wil ons seker maak ons kry die resultaat. Ons wil alles toepas waaraan ons gedurende die afseisoen en hierdie week gewerk het.
“Ons speel vir posisies, daarom is dit vir ons ’n toetswedstryd.”
Kolisi het erken dat die Barbarians bekend is vir hul oop, aanvallende speelstyl, maar het beklemtoon dat die Springbokke gefokus moet bly op hul eie spelplan en prosesse.
“Ek dink die fokus moet op onsself as span wees en op wat ons moet doen,” het hy gesê.
“Ons wil ook op dié manier speel, en ons spel laat dit toe.
“Vir ons gaan dit daaroor om gedissiplineerd te bly by wat ons wil doen, want die geleenthede sal daar wees.”
Die wedstryd bied aan spelers ’n belangrike geleentheid om hul aanspraak op ’n plek in die Springbok-opset te versterk, terwyl die span ook hul voorbereidings vir die res van die internasionale seisoen wil afskop met ’n sterk vertoning.
Ervaring + talent
Die Springbokke sal Saterdag teen die Barbarians met ’n mengsel van ervaring en nuwe talent uitdraf.
Van die 23 spelers in die groep het 18 reeds internasionale ervaring. Die enigste spelers in die beginspan wat nog hul toetsdebuut moet maak, is die Junior Springbok-kaptein Riley Norton op slot en stut Carlu Sadie.
Op die bank wag nog drie ongekroonde spelers vir hul kans: haker JJ Kotze, losvoorspeler Paul de Villiers en die SA O20-losskakel Vusi Moyo.
Die agterlyn spog met heelwat internasionale ervaring. Aphelele Fassi, Cheslin Kolbe en Edwill van der Merwe vorm die agterste drie, terwyl Andre Esterhuizen en Jesse Kriel ’n fisieke en aanvallende senterpaar sal vorm.
Die grootste gesprekspunt is egter die keuse van Quan Horn op losskakel. Hy sal saam met Grant Williams as skakelpaar optree.
Die laaste ontmoeting tussen die twee spanne was in Junie verlede jaar toe die Springbokke die Barbarians met 54-7 in die DHL Stadium geklop het.
Hierdie keer beskik die Barbarians egter oor ’n sterbelaaide groep onder leiding van voormalige All Blacks-afrigter Scott Robertson. Die voormalige All Black-skrumskakel TJ Perenara sal die span aanvoer.
Welkom tuis, Duhan
Duhan van der Merwe, wat in Suid-Afrika gebore en grootgeword het, speel vandag vir Skotland nadat hy in 2020 op grond van verblyfreg vir die land gekwalifiseer het. Sedertdien het hy 53 toetswedstryde gespeel en ook twee toere saam met die Britse & Ierse Leeus meegemaak.
Hoewel hy as jong speler daarvan gedroom het om eendag ’n Springbok te word, sê hy hy het vrede gemaak met sy besluit en voel nie dat hy iets hoef te bewys nie.
Hy het ook vertel hoe spesiaal dit is om weer saam met sy voormalige skoolmaat Warrick Gelant te speel.
Die twee het saam by Hoërskool Outeniqua in George skoolgegaan en was ook deel van die Bulls-akademie, hoewel hulle nooit saam vir die senior span gespeel het nie.
Van der Merwe sê hul band is steeds sterk: “Dit is fantasties. Ek het nie eers geweet Warrick is hier tot waar ek opgedaag het nie. Ons het nog altyd ‘n goeie verhouding gehad en dis baie spesiaal om weer saam met hom op die veld te verskyn. Hy was my heelagter op skool.
“Hy het altyd vir my die bal gegee en in Afrikaans geskree dat ek in die hoek moet gaan druk. Nou’t ek vir hom gesê ek is dalk ‘n bietjie ouer en dalk nie meer so vinnig as wat hy onthou nie,” het die 31-jarige lakonies opgemerk.
Springbokke
15 Aphelele Fassi
14 Cheslin Kolbe
13 Jesse Kriel
12 Andre Esterhuizen
11 Edwill van der Merwe
10 Quan Horn
9 Grant Williams
8 Jasper Wiese
7 Pieter-Steph du Toit
6 Siya Kolisi (kaptein)
5 Franco Mostert
4 Riley Norton
3 Carlu Sadie
2 Andre-Hugo Venter
1 Ox Nche
Plaasvervangers
- JJ Kotze
- Ntuthuko Mchunu
- Zachary Porthen
- Ben-Jason Dixon
- Paul de Villiers
- Evan Roos
- Faf de Klerk
- Vusi Moyo
Barbarians
15 Warrick Gelant
14 Andrew Kellaway
13 Virimi Vakatawa
12 Alex Nankivell
11 Duhan van der Merwe
10 Tomás Albornoz
9 TJ Perenara (kaptein)
8 Miracle Fai’ilagi
7 Lachlan Boshier
6 Guido Petti
5 Alex Moon
4 Franco Molina
3 D’Arcy Rae
2 Elliot Dee
1 Mayko Vivas
Plaasvervangers
- Leonel Oviedo
- Oli Kebble
- Pedro Delgado
- Izack Rodda
- Liam McConnell
- Santiago Arata
- Harry Plummer
- Tuidraki Samusamuvodre
Wedstrydbeamptes
🕒 Afskop: 15:00 (SA tyd)
- Skeidsregter: Morné Ferreira
- Assistent-skeidsregters: Griffin Colby en Hanru van Rooyen
- Televisie-wedstrydbeampte: Marius van der Westhuizen
