Te midde van ’n oranje vlak 8-weerwaarskuwing wat vir groot dele van die Kaapse Wynland-distrik uitgereik is, doen plaaslike owerhede ’n dringende beroep op inwoners om hulself en eiendom voor te berei vir moontlike oorstromings, sterk wind en infrastruktuurskade in die komende dae.
Dieselfde waarskuwing is vroeër vandeesweek vir die Suid-Kaap uitgereik waar minstens een persoon dood is en talle skole moes sluit weens wydverspreide skade.
Volgens die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) word matige reën Sondag verwag, maar die weerstoestande sal na verwagting Maandag en Dinsdag aansienlik versleg namate ’n tweede kouefront oor die distrik beweeg.
Die gebiede wat die ergste geraak kan word, sluit die Breedevallei, Drakenstein, Stellenbosch en Witzenberg in, met bergagtige gebiede wat as besonder hoë risiko-sones beskou word.
Die KWDM waarsku dat tussen 200 mm en 300 mm reën in sommige gebiede kan uitsak, terwyl windspoed van tot 100 km/h ook verwag word. Dit verhoog die risiko van oorstromings, bome wat kan omval, skade aan huise en moontlike ontwrigting van dienste.
Die Drakenstein-munisipaliteit, wat dorpe soos die Paarl en Wellington insluit, het inwoners intussen aangemoedig om nou reeds die nodige voorsorgmaatreëls te tref voordat die stormweer toeslaan.
Die munisipaliteit vra inwoners om geute, afvoerpype en stormwaterdreine skoon te maak om oorstromings te help voorkom. Inwoners word ook aangeraai om dakke vir los sinkplate of beskadigde teëls te inspekteer en los voorwerpe buite huise vas te maak of binnenshuis te bêre.
“Inwoners in laagliggende gebiede, word versoek om waardevolle items na hoër plekke te skuif waar moontlike oorstromings kan voorkom,” lui ’n kennisgewing deur die Drakenstein-munisipaliteit.
“Vermy oorstroomde paaie, rivieroewers en stygende strome,” lui die kennisgewing.
Die munisipaliteit het verder gewaarsku oor moontlike kragonderbrekings weens die gure weer, en inwoners aangemoedig om selfone en noodsaaklike elektroniese toestelle betyds te laai.
Skole in die distrik sal volgens hul eie risikobepalings besluit of sluitings nodig is, en ouers word aangeraai om amptelike kennisgewings van skole dop te hou.
Die KWDM het inwoners versoek om waaksaam te bly, onnodige reis te vermy en voortdurend weeropdaterings via plaaslike radiostasies en betroubare nuusplatforms te volg.
