Kragtoer deur Emmy-benoemde Kim Engelbrecht vanjaar by Woordfees

Foto: Hans van der Veen
Foto: Hans van der Veen

Die bekroonde Suid-Afrikaanse aktrise Kim Engelbrecht, wat in 2022 vir ’n internasionale Emmy-toekenning benoem is, sal in Oktober by die Toyota Stellenbosch Woordfees te sien wees in A Woman Alone – die donker, skreeusnaakse eenvroustuk wat vroeër vanjaar die vinnigste verkoper én die eerste uitverkoopte produksie by die Suidoosterfees was.

Foto: Hans van der Veen
Foto: Hans van der Veen

Engelbrecht, wat oor die jare ’n bekende gesig op Suid-Afrikaanse én internasionale televisieskerms geword het, is vir haar rol in Reyka vir ’n internasionale Emmy in die kategorie Beste spel deur ’n aktrise benoem. Haar indrukwekkende loopbaan sluit ook rolle in Isidingo, Dominion en die Amerikaanse reeks The Flash in.

Met A Woman Alone keer sy terug na die teatermedium wat reeds van kleins af deel van haar lewe is.

“Ek het nog altyd tot teater aangetrokke gevoel, maar die afgelope klompie jare het ek meer van ’n film- en televisie-aktrise geword,” sê Engelbrecht.

Haar eerste verhoogverskyning was reeds op sesjarige ouderdom, toe sy Tinkerbell in ’n laerskoolproduksie van Captain Hook gespeel het. Later was sy onder meer te sien in Janice Honeyman se pantomimes by die Joburg Theatre, Ben Elton se Popcorn, Shakespeare in the Park se A Midsummer Night’s Dream en Kroes, wat destyds deur Saartjie Botha, nou direkteur van die Toyota Stellenbosch Woordfees, vervaardig is.

’n Gehoorgunsteling by Suidoosterfees

Foto: Hans van der Veen
Foto: Hans van der Veen

Kaapse gehore het vroeër vanjaar na A Woman Alone gestroom toe die produksie by die Suidoosterfees gedebuteer het. Nou kry Stellenbosch se gehore op 3, 4 en 6 Oktober ook kans om dié gewilde verhoogstuk te beleef.

Engelbrecht speel onder regie van Quanita Adams, met Charlton George as assistentregisseur. A Woman Alone is geskryf deur die legendariese Italiaanse teatermakers Franca Rame en Dario Fo en verweef klug, satire en drama in die verhaal van ’n huisvrou wie se oënskynlik alledaagse bestaan allesbehalwe gewoon blyk te wees.

Wanneer die gehoor haar in die skynbaar veilige ruimte van haar huis ontmoet, lyk alles op die oog af normaal. Maar dié indruk verander egter gou.

Foto: Hans van der Veen
Foto: Hans van der Veen

“Soos die verhaal ontvou, besef jy vinnig dat haar lewe chaoties is,” sê Engelbrecht.

Die karakter staan voor verskeie uitdagings: sy sukkel om ’n band met haar kinders te vorm, ’n meedoënlose agtervolger is op haar spoor, daar is ’n gebroke minnaar en ’n swaer wat haar betas. Tog omskep Rame en Fo hierdie ontstellende werklikheid in teater wat beide ongemaklik én uitbundig snaaks is.

Steeds relevant na byna 50 jaar

A Woman Alone is die eerste keer in 1977 opgevoer en laat die kollig val op kwessies soos die onderdrukking én bevryding van vroue, asook die boksies waarin die samelewing vroue dwing. Byna ’n halfeeu later vind Engelbrecht dat die stuk steeds tot ons samelewing spreek.

Foto: Hans van der Veen
Foto: Hans van der Veen

“Ek dink dit praat oor die vele gesigte wat ons het, al die rolle wat vroue vervul en hoe perfek ons dit leer bemeester. Dit kyk ook na hoe ons soms humor gebruik om ons stryd weg te steek.

Foto: Hans van der Veen
Foto: Hans van der Veen

“Dit beklemtoon terselfdertyd die skoonheid van vroue – ons vasberadenheid om die beste te maak van omstandighede wat nie altyd volmaak is nie. Dit gaan oor vroue se onvervulde behoeftes en die stil stryd wat ons voer, maar ook oor hoe sterk ons is.”

Terug Stellenbosch toe

Foto: Hans van der Veen
Foto: Hans van der Veen

Die Woordfees-speelvak het besondere betekenis vir Engelbrecht en Adams. Jare gelede het hulle saam in Kroes by die fees gespeel, waar hulle die rolle van beste vriendinne vertolk het. Dit was ook tydens dié produksie dat hul eie vriendskap begin het. Nou keer Engelbrecht terug Stellenbosch toe, dié keer met Adams in die regisseurstoel.

“Hierdie produksie is vir ons ’n volsirkel-oomblik en ek is so opgewonde dat ek dit saam met Quanita kon doen. Dit is ’n droom wat waar word,” sê Engelbrecht.

Haar bande met Stellenbosch strek ook verder as die verhoog. “Ek het familie in Jamestown, dus besit dié plek my hart.”

Deel van ’n wêreldwye viering

Foto: Hans van der Veen
Foto: Hans van der Veen

Die 2026-speelvak van A Woman Alone val saam met die honderdste herdenking van Dario Fo se geboorte. Fo, wat in 1997 met die Nobelprys vir Letterkunde bekroon is, is in 1926 gebore.

Die Fondazione Fo Rame in Italië vier sy eeufees met ’n internasionale program wat die werk en nalatenskap van Fo en Rame wêreldwyd belig.

Dario Fo. Foto: Instagram
Dario Fo. Foto: Instagram

Die Suid-Afrikaanse produksie van A Woman Alone – van sy Suidoosterfees-debuut tot die komende Woordfees-speelvak – vorm deel van hierdie internasionale viering.

Vir Engelbrecht bied die produksie aan Suid-Afrikaanse gehore die geleentheid om Fo en Rame se besonderse teaterstyl binne ’n plaaslike konteks te ervaar.

“Gehore moet Italiaanse teater in ’n Suid-Afrikaanse konteks sien – hoe Dario Fo en Franca Rame se genre en styl so pragtig op ons verhoë werk,” sê sy.

Foto: Hans van der Veen
Foto: Hans van der Veen

“Dit is ’n revolusionêre teaterstyl wat antieke Italiaanse klug met skerp politieke satire en sosiale aktivisme vermeng. Die stuk is baie donker, maar ook skreeusnaaks.”

Ná die uitstekende ontvangs van A Woman Alone by die Suidoosterfees kry dié werk nou ’n tweede Suid-Afrikaanse feesspeelvak – en nog ’n kans om te wys waarom ’n Italiaanse stuk wat byna 50 jaar gelede geskryf is, steeds ’n hedendaagse gehoor kan laat lag, ongemaklik laat rondskuif en hulleself laat raaksien.

'A woman alone'
‘A woman alone’

A Woman Alone is ’n ko-produksie van die Suidoosterfees en Toyota Stellenbosch Woordfees, moontlik gemaak deur die Festival Enterprise Catalyst (FEC), The Jobs Fund en Nando’s.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos