Die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) sê die eerste dag van kampusontruimings het gehelp om spanning te verminder ná gewelddadige ontwrigtings.
Baie studente het intussen huis toe teruggekeer, terwyl versterkte veiligheids- en patrolliedienste ontplooi is vir diegene wat steeds op kampus bly.
KSUT-woordvoerder, Lauren Kansley, het Donderdag aan TygerBurger, ’n susterpublikasie van Die Papier, gesê die universiteit se prioriteit is om verdere geweld te voorkom en studente se veiligheid te verseker.
“Ons is verheug dat die eerste dag van die KSUT-kampusontruimings suksesvol verloop het. Baie studente het van die geleentheid gebruik gemaak om huis toe te gaan,” het Kansley gesê.
“Vir ons is die maatstaf van sukses eenvoudig: dat ons die geweld laat afneem, verlies aan lewens voorkom en kalmte na ons kampusse terugbring. Ons glo ons het daarin geslaag.”
Kansley het gesê KSUT het oornag-patrollies versterk om studente wat in koshuise aanbly te beskerm en te verseker dat dié wat wil vertrek, dit veilig kan doen.
Sy het beklemtoon dat die proses ’n ontruiming en nie ’n uitsetting was nie.
“Dit was ’n ontruiming en het aan studente wat onveilig gevoel het die geleentheid gebied om te vertrek. Baie het dit gedoen en ons is bly daaroor.”
Gesprekke word beplan
Die ontwrigtings het gevolg op studenteprotes oor verskeie kwessies, insluitend KSUT se konsep-finansiëleherstelplan, wat intussen teruggetrek is.
Kansley het gesê gesprekke tussen die betrokke partye word verwag terwyl pogings voortduur om die situasie op te los.
“Gesprekke is op die tafel en sal plaasvind. Ons verwelkom die ingryping van die departement van hoër onderwys en opleiding,” het sy gesê.
Dit is nog onduidelik wanneer studente en personeel na die kampusse sal terugkeer.
KSUT het gesê kampusse sal slegs heropen wanneer dit as veilig beskou word.
“Kampusse moet eers as veilig verklaar word voordat ons enigiemand terugnooi,” het Kansley gesê.
