Bok-ondersteuners was warm onder die kraag toe slotte Lood de Jager en Franco Mostert in twee agtereenvolgende wedstryde teen Frankryk en Ierland einde verlede jaar ’n rooi kaart ontvang het. Boonop het Eben Etzebeth ’n verdiende rooi kaart in die wedstryd teen Wallis daarna ontvang.
Drie rooi kaarte, drie wedstryde.
As dié petalje jou nog steeds ontstel, dan moet jy liefs nie verder lees nie. Rooi kaarte is onlangs aan 23 spelers in een sokkerwedstryd in Brasilië gewys.
Die bisarre voorval het plaasgevind in die Campeonato Mineiro-eindstryd tussen klubspanne Cruzeiro en Atletico Mineiro ná ’n massiewe bakleiery in die doodsnikke van die wedstryd uitgebreek het.
Cruzeiro het die wedstryd 1-0 gewen, maar dié oorwinning is ongelukkig versuur deur spelers wat appels swaai asof hul lewens daarvan afhang.
Die geveg het begin toe Atletico se doelwagter, Everson, Cruzeiro se Christian grond toe gedruk en met sy knieë op sy bors gestaan het.
En dan, chaos! Christian se spanmaats kom aangestorm en binne sekondes is die dolwagter binne sy eie hok omsingel deur ’n see van spelers.
Toe raak die Atletico spelers ook betrokke.
’n Mens sien net vuiste swaai, bene wat skop en spelers wat heen en weer aan die kraag gepluk word.
Die wedstryd se verslag lyk dus as volg: Die wedstryd se enigste doel is in die 60ste minuut deur Kaio Jorge aangeteken. En dan is daar 23 spelers wat in beseringstyd koelkas toe gestuur is.
“Dit is jammer,” het die aanvaller Hulk ná Sondag se eindstryd gesê. “Ons kan nie só voorbeeld stel nie, want dit het gevolge regoor die wêreld. Ons het ’n verantwoordelikheid om ons beeld en die beeld van die organisasie te beskerm.”
