KYK | Mahlobo sê ‘narratief oor wit volksmoord moet verwerp word’

David Mahlobo, adjunkminister van water en sanitasie, tydens Werkersdagvieringe in Mbekweni in die Wes-Kaap. Foto: Rasaad Adams
David Mahlobo, adjunkminister van water en sanitasie, tydens Werkersdagvieringe in Mbekweni in die Wes-Kaap. Foto: Rasaad Adams

David Mahlobo, ANC-adjunkminister van water en sanitasie, het Vrydag se Internasionale Werkersdagvieringe in die Wes-Kaap gebruik om uit te vaar teen wat hy beskryf as “verregse groepe wat Suid-Afrika se soewereiniteit bedreig met leuens oor ’n wit volksmoord”.

“Hierdie groepe reis regoor die wêreld en versprei leuens oor ons land. Hulle sê ons is ’n land wat nie diversiteit duld nie. Hulle gaan vertel aan die wêreld dat ons besig is om ons eie mense te vermoor,” het Mahlobo Vrydag in Mbekweni in die Drakenstein-munisipaliteit gesê.

“Die statistiek is baie duidelik. Daar is nie ’n [wit] volksmoord in ons land nie,” het hy bygevoeg. Mahlobo het verder gesê: “Ons aanvaar dat Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon. Ons moet as een nasie verenig en die probleem met verregse elemente en disinformasie oor ons land ten sterkste veroordeel.”

“Dit kan nie in ons naam gebeur nie,” het hy aangevoer.

Sy opmerkings kom te midde van volgehoue debat, plaaslik en internasionaal, oor die sogenaamde “wit volksmoord”-narratief.

Volgens verskeie ontledings en berigte deur internasionale mediahuise onder meer die BBC en Reuters, is daar geen bewyse om die bestaan van ’n georganiseerde volksmoord in Suid-Afrika te staaf nie.

Kenners wys eerder daarop dat geweldsmisdaad in die land wydverspreid is en mense van alle rasse raak, hoewel plaasaanvalle en -moorde ’n sensitiewe en emosioneel gelaaide kwessie bly.

*Hou Die Papier dop vir meer.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie