Kyk na ons rekord van dienslewering sê DA se Theo Venter

Prof. Theo Venter is onlangs as die DA se burgemeesterskandidaat vir onder meer Potchefstroom en Ventersdorp aangewys.

“Ons het ’n punt bereik waar mense nie meer omgee wat die kleur van jou vel is nie. Hulle wil net weet of jy die werk kan doen.”

So sê prof. Theo Venter (70), die DA se burgemeesterskandidaat vir onder meer Potchefstroom en Ventersdorp.

Die JB Marks-munisipaliteit word deur ’n koalisie van die ANC en die PA bestuur, met die DA as die amptelike opposisie.
Venter, ’n politieke kommentator, woon al meer as 40 jaar in dié munisipaliteit. Hy glo kiesers – selfs dié wat al jare lank tradisioneel stem – is keelvol van die provinsie se agteruitgang.

Venter meen daar is verskeie partye wat steeds met “identiteitspolitiek speel”. Dit is een van die redes hoekom by die DA aangesluit en die kandidatuur aanvaar het, sê hy. Sy kandidatuur is vroeg verlede maand deur John Steenhuisen, die partyleier, op die DA se provinsiale kongres buite Potchefstroom aangekondig.

“Een van die dinge wat kiesers doen, is om na jou rekord van dienslewering te kyk. Partye soos die SAKP en die EFF het te min voorbeelde waar hulle suksesvol diverse omgewings bestuur het. Die DA, daarenteen, het ’n baie beter rekord van dienslewering, en ons sien dit in gebiede soos Meyerton in Gauteng.”

Venter sê hoewel hy vertroud is met die omgewing, gaan hy steeds hom beskikbaar stel om na alle kiesers te luister.

“Die belangrikste vir my is dat ek in die eerste fase van my veldtog eers net gaan luister. Ek wil by inwoners hoor wat hulle regtig pla. Ek heg baie waarde aan ’n luisterveldtog.”

Hoewel Potchefstroom die grootste dorp in die munisipaliteit is, benadruk Venter dat daar net soveel behoeftes in ander munisipale gebiede is wat aandag verg.

Venter was onder meer spesiale adviseur vir twee vise-kanseliers van die Noordwes-Universiteit, is in 2015 deur joernaliste in die sektor as Landboukundige van die Jaar aangewys en was ook ’n genoot aan ’n universiteit in Noord-Amerika.

Prof. André Duvenage en prof. Theo Venter.
Prof. André Duvenage en prof. Theo Venter. FOTO: Facebook.

Die studente

Venter beskou die Potchefstroomse studentegemeenskap as ’n belangrike deel van sy veldtog.

“Ons het baie studente wat van buite kom wat oortuig sal moet word om hier te registreer. Dan is daar ook die uitdaging om hulle by die stembus uit te kry. Ons sien landwyd dat kiesersgedrag eers van omtrent 30-jarige ouderdom begin verander. Dis dan dat mense meer ernstig aan verkiesings begin deelneem.”

Venter meen die verhouding tussen die universiteit en die stadsraad sal herstel moet word om die studentegemeenskap beter te betrek.

“Ek was destyds die oorspronklike skrywer van die memorandum van verstandhouding tussen die universiteit en die stadsraad – ’n dokument waaraan daar in die afgelope paar jaar bitter min aandag gegee is.”

Waarom nou?

Op die vraag waarom hy op 70-jarige ouderdom die uitdaging wil aanpak om ’n polities onstabiele munisipaliteit in ’n provinsie wat gekenmerk word deur swak dienslewering en wanadministrasie te lei, is sy antwoord eenvoudig: “Dit is my finale daad van diens aan my gemeenskap.”


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie