KYK: Seldsame haai spoel uit in Weskus

Die grootbekhaai word uit die water gehaal nadat dit in die hawe uitgespoel het.
Die grootbekhaai word uit die water gehaal nadat dit in die hawe uitgespoel het. Foto: Danie Hefers.

Die karkas van ’n uiters seldsame grootbekhaai het Saterdag, 22 Augustus, in St. Helenabaai se hawegebied langs die Pioneer Fishing-visfabriek uitgespoel, nadat dit vir ’n kort tydperk in die hawe rondgeswem het.

Weslander, ’n susterpublikasie van Die Papier, is deur die bekende omgewingsaktivis van Velddrif, Ettienne Swanepoel, van die voorval ingelig. Swanepoel, van die Sandveld Wildlife-sentrum (Swerf), is ook ’n bekende slangvanger in die Weskus.

Die grootbekhaai (megamouth shark) is ’n diepsee-haaispesie (megachasma pelagios) en word selde deur mense waargeneem. Dit groei tot vyf meter lank, en is naas die veel groter walvishaai en reuse-sonvis, die kleinste van die drie bestaande filtervoedende haaispesies.

Die spesie is herkenbaar aan sy groot kop met rubberagtige lippe.

Die haai se karkas is by die Pioneer Fishing-visfabriek gestoor vir verdere ondersoek.
Die haai se karkas is by die Pioneer Fishing-visfabriek gestoor vir verdere ondersoek. Foto: Danie Hefers.

Volgens kenners is slegs sowat 300 grootbekhaaie waargeneem of gevang sedert die spesie se ontdekking in 1976 en soos die ander twee planktonvretende haaie, swem die grootbekhaai met sy bek wyd oop en filtreer water om plankton en jellievisse te versamel.

Grootbekhaaie se dieet bestaan hoofsaaklik uit organismes, soos kril, jellievisse, garnaallarwes, klein kreefagtige diertjies en kraplarwes.

Haai.
Foto: Danie Hefers.

Die haaikarkas is by die visfabriek gestoor en twee senior navorsers van die departement van landbou, bosbou en visserye, Sarika Singh en Steven McCue, het vandag vanuit die Kaap gekom om die karkas te ondersoek. Monsters is geneem en sal by die departement se laboratoruim in Kaapstad bestudeer word om onder meer die moontlike oorsaak vir die haai se dood te bepaal. Die karkas sal daarna begrawe word.

Volgens Singh is dit slegs die tweede grootbekhaai wat in Suid-Afrikaanse seegebied gevind is en is die karkas belangrike navorsingsmateriaal vir die departement.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos