Lasbrief om Paarlse ‘steroïede-laboratorium’ te deursoek, was ongeldig

Lasbrief.
Foto ter illustrasie: Unsplash.

Die hooggeregshof in Kaapstad het die lasbrief wat verlede jaar tot ’n Valke-klopjag op ’n beweerde steroïede-laboratorium in die Paarl gelei het, verlede Maandag (18 Mei) tersyde gestel en beveel dat alle goedere waarop beslag gelê is aan die eienaars terugbesorg moet word.

Regter Noluthando Nziweni het bevind die uitreiking en uitvoering van die lasbrief was onwettig en ongeldig. Die hof het ook gelas dat die polisie die koste van die aansoek moet betaal.

Die beslissing volg meer as ’n jaar nadat die Valke op 12 Februarie 2025 op Specialised Packaging International se perseel in die Zandwyk-sakepark in Paarl-Suid toegeslaan het waar ’n beweerde onwettige steroïede-vervaardigingslaboratorium bedryf is, soos Paarl Post destyds berig het.

Tydens dié operasie is daar op toerusting, dokumente, selfone, rekenaars, hardeskywe en medisyne beslag gelê. Jade Sowter en Reynard Stander (albei 27) is ook daarna in hegtenis geneem op aanklagte wat verband hou met die Wet op Beheer van Medisyne en Verwante Stowwe.

Die Valke se Suid-Afrikaanse Buro vir Verdowingsmiddelsafdwinging (Saneb), met ondersteuning van die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte-reguleringsowerheid (Sahpra), het destyds gesê die ondersoek het reeds in Januarie 2023 begin nadat inligting ontvang is oor steroïede wat glo uit die Franschhoek-omgewing per koerier versprei is, het Paarl Post berig.

Volgens die polisie is pakkies wat bestem was vir verskeie dele van Suid-Afrika onderskep en forensies getoets, waarna sekere inhoud as skedule 4- en skedule 5-medisyne geïdentifiseer is. Die ondersoek het uiteindelik tot die klopjag op die Paarl-perseel gelei.

Stander is die dag van die klopjag in hegtenis geneem, terwyl Sowter die volgende dag aangekeer is. Die twee is later op borgtog van R15 000 elk vrygelaat.

Nziweni het in haar uitspraak skerp kritiek uitgespreek teen die polisiebeamptes wat by die uitvoering van die lasbrief betrokke was. Sy het gesê hul optrede was verkeerd en buite die raamwerk van die wet.

Die hof het verder bevind dat die beëdigde verklaring waarop die lasbrief gegrond is, gebrekkig was en op ontoelaatbare riemtelegraamgetuienis en onbevestigde inligting gesteun het. Volgens die uitspraak was daar nie voldoende bewyse wat die perseel direk met die beweerde oortredings verbind het nie.

Die hof het ook bevind dat die lasbrief te wyd geformuleer was en dat die landdros versuim het om voldoende onafhanklike geregtelike toesig uit te oefen voordat dit toegestaan is.

Alles waarop die polisie tydens die operasie beslag gelê het, moet nou binne sewe dae aan die regmatige eienaars terugbesorg word.

LEES | Valke slaan toe op steroïede-laboratorium in die Paarl

Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie