Lions brul hard op Ellispark, klop Dragons oortuigend

Die Lions het Saterdag teen die Dragons gewen in die Verenigde Rugbykampioenskap.
Die Lions het Saterdag teen die Dragons gewen in die Verenigde Rugbykampioenskap. Foto: Facebook.

Hul dissipline het aanvanklik die Lions erg in die steek gelaat. Hoewel hulle uitstekend op die aanval en verdediging gelyk het, het hulle gereeld strafskoppe afgestaan wat hulle van momentum ontneem het.

Ja, flank Siba Mahashe het eerste vir die Lions gaan druk, maar ’n verbroude stelskop deur Chris Smith het die dominerende Lions-span slegs 5-0 laat voorloop.

Sodoende het senter Aneurin Owen, ná ’n strafskop en lynstaan, onder die pale gaan druk om die voordeel weer in die Dragons se guns te swaai met ’n telling van 5-7.

Met drieë deur die Lions se Richard Kriel en die Dragons se Owen, was die halftyd-telling 18-14 in die Lions se guns. Chris Smith het ook met twee strafskoppe tot dié telling bygedra.

Dragons-vleuel Rio Dyer het vanaf ’n briljante skopaangee in die hoek oorgeduik om die Walliese span 18-21 te laat voorloop vroeg in die tweede helfte. Die Lions kon gelukkig enkele minute daarna met vinnige hande en ’n puik aanval vir Chris Smith doellyn toe help om die telling 25-21 te maak.

Die Lions het sterk op die aanval gebly en twee drieë deur Nico Steyn, en een deur Erich Cronje het die Lions se puntetelling tot 42 opgestoot. ’n drie deur die Dragons se Dyer het ’n goeie verweer gebring, maar was uiteindelik nie genoeg om op Ellispark te wen nie. Eindtelling 42-26.

Die Lions se speler van die wedstryd was Nico Steyn.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie