Terwyl die getuienis voor die Madlanga-kommissie vrae laat ontstaan oor die optrede van senior polisiebeamptes, het die ondersoek homself ook toenemend op die ondersoekdirektoraat teen korrupsie (IDAC) begin toespits.
Die afgelope week is Andrea Johnson, die voormalige IDAC-hoof, deur haar eie kollegas geïmpliseer, terwyl Matthews Sesoko, die hoof van ondersoeke en operasies by IDAC, erken het dat hy ten volle by die omstrede operasie Diversion betrokke was.
Intussen het President Cyril Ramaphosa op Donderdag, 6 Augustus, die kommissie se tweede tussentydse verslag ontvang en kennis geneem van aanbevelings vir dissiplinêre optrede en onmiddellike strafregtelike ondersoeke teen vier mense, onder wie lt.genl. Shadrack Sibiya, die geskorste adjunk-nasionale polisiekommissaris.

4 Augustus – IDAC word self die teiken
Die getuienis van adv. Drushanta Ramsamy, ’n staatsaanklaer by IDAC, het die ondersoek na die direktoraat se optrede rondom die vervolging van senior misdaadintelligensiebeamptes in ’n nuwe lig geplaas. Ramsamy het getuienis gelewer oor wat sy beskryf het as ernstige probleme met die wyse waarop die ondersoek na Dumisani Khumalo, die misdaadintelligensiehoof en ander beamptes van stapel gestuur is.
Die saak het reeds vroeër vrae laat ontstaan nadat Johnson toegegee het dat IDAC wel ’n Artikel 27-klagte van Fadiel Adams ontvang het, iets wat sy aanvanklik nie aan die parlementêre ad hoc-komitee gesê het nie. Sy het ook erken dat dele van haar vorige getuienis verkeerd was. Volgens Ramsamy is dokumente wat gebruik is om ’n Artikel 28-ondersoek te magtig, vervals. Sy het onder eed ontken dat sy die betrokke aansoek voorberei of ingedien het.

Ramsamy het ook beweer dat Johnson gereeld met Senzo Mchunu, die geskorste polisie minister, vergader het. Volgens haar het Johnson aan haar span gesê dat die minister die SAPD, en spesifiek Misdaadintelligensie, wou “skoonmaak”.
5 Augustus – ‘Visvang-ekspedisie’
Die tweede dag van Ramsamy se getuienis het die fokus verder verskuif na die redes waarom IDAC sekere misdaadintelligensiebeamptes geteiken het. Ramsamy het die ondersoek na Khumalo en ses ander beamptes as ’n “visvang-ekspedisie” beskryf.
Die kern van haar kritiek was dat ondersoekers volgens haar op bepaalde teikens gefokus het terwyl ander moontlike aanduidings van korrupsie nie dieselfde aandag gekry het nie. Die getuienis kom nadat die kommissie reeds bevraagteken het hoe die aantal verdagtes in die misdaadintelligensie-ondersoek uitgebrei is.
Volgens vorige getuienis het Adams se oorspronklike klagte slegs drie mense genoem, terwyl IDAC uiteindelik meer beamptes in die ondersoek betrek het. Sy het verder getuig oor ’n stem opname waarin Johnson haar glo gewaarsku het om Suid-Afrika te verlaat indien sy deur die Madlanga-kommissie opgeroep sou word om te getuig.

Johnson het intussen reeds haar pos verlaat. President Ramaphosa het op 27 Julie haar versoek om haar pos as IDAC-hoof met onmiddellike ingang te verlaat, aanvaar.
6 Augustus: Matthews Sesoko erken sy rol in operasie Diversion
Matthews Sesoko, IDAC se hoof van ondersoeke en operasies, het sy getuienis voor die kommissie voltooi.
Sesoko het erken dat hy deur die loop van die ondersoek betrokke was, insluitend vergaderings, die koördinering van versoeke om inligting, en gesprekke oor moontlike arrestasies. Dit was ’n belangrike toegewing, omdat hy vroeër aangedui het dat hy eers later bewus geword het van die ondersoek. Toe Mbuyiseli Madlanga, die kommissievoorsitter, afgetrede regter, hom daarop druk, het Sesoko erken: hy was betrokke.
Madlanga het Sesoko ook gekritiseer oor sy erkenning dat hy soms nie vir wat reg is opgestaan het nie omdat hy gevrees het dat mense wat gesag uitdaag, geviktimiseer kan word.
